Jorina van Coller is ’n ywerige hengelaar wat daaraan gewoond is om die grotes uit te haal
Sy is verlede maand op hul jaarlikse prysuitdeling as die Lekker Sosiale Hengelklub se Hengelaar van die Jaar aangewys
SECUNDA – Elke hengeldag is soos ‘n klein vakansie vir jou siel.
Só meen Jorina van Coller (22), ‘n ywerige hengelaar wat haar vaskap by die viswaters ken.
Sy is eintlik meer bekend as Dolla, ‘n bynaam wat al sedert babatyd vasklou.
Dié Tukkies-student van Secunda bestee die meeste van haar vrye tyd aan haar sport.
“Almal het ‘n stress reliever nodig en visvang is myne,” het sy vertel.
Van Coller is onder die lede van die Lekker Sosiale Hengelklub bekend vir die knewels wat sy uittrek.
Sy het juis weer ‘n ou grote uitgetrek toe sy en haar ouers, mnr. Ines en mr. Ena van Coller, die laaste naweek in Oktober aan Roodekoppies Bosveld Bonanza Hengelkompetisie naby Brits deelgeneem het.
Sy het ‘n karp van 12,86kg aan wal gesleep.
Hiermee het sy haar persoonlike beste prestasie behaal en het ook ‘n 11de plek tydens die kompetisie behaal.
“Ek beskou egter nie een spesifieke ding as ‘n prestasie nie omdat ‘n mens altyd moet probeer beter doen, maar onlangs was dit tóg ‘n lekker gevoel om al die mans in my klub te kon klop by ons jaarlikse prysuitdeling,” het Van Coller gesê.
Sy is verlede maand tydens hul jaarlikse prysuitdeling as die Lekker Sosiale Hengelklub se Hengelaar van die Jaar aangewys.
Haar pa het dié trofee verlede jaar verower, dus het die toekenning nie van plek verwissel nie, slegs van eienaar.
Sy het dié aand met ‘n kruiwa-vrag trofeë weggestap.
“Dit is lekker om te kan bewys dat vroue soms beter kan vaar in ‘n sport wat voorheen as oorheersend ‘n manne-sport beskou is.”
Sy glo egter sy het alles wat sy van hengel weet, by haar pa geleer.
“Daar is wel altyd vriendelike kompetisie tussen ons.”
Dié lesse sluit ook in watter aas om aan die hoek te plaas. Hulle deel hul resepte en allerlei wen-idees met mekaar. Van Coller se gunsteling-lokkos vir die visse is enigiets wat piesang of knoffel bevat.
Dié blondekop met haar ligte vel is ten minste een maal per maand langs die viswaters.
Sy sal ook veel eerder ‘n gemaklike uitrusting aantrek as om haarself op te dollie.
“Daar is nie altyd tyd vir optof nie, veral as jy langs die viswaters wil wees,” het sy gebieg.
Van Coller het langs die viswaters grootgeword en het al op skool, veral toe sy nog in Hoërskool Oosterland was, ernstig begin hengel. Die bekoring van hengel is volgens haar daardie “angstigheid” wat ‘n hengelaar ervaar wanneer ‘n vis byt.
“Die adrenalien loop en jy kan nie wag om te sien wat aan die anderkant van die lyn is nie,” het sy verduidelik.
Van Coller is beslis nie van plan om binnekort op te hou hengel nie.
“As ek eendag kinders het, hoop ek, ek kan so baie vir my kinders doen soos wat my ouers vir my gedoen het.”
Op die vraag of daar darem ‘n spesiale jong man in haar lewe is, het Van Coller skertsend vertel: “Nog nie, dis hoekom ek visvang! Ek hoop ek kry hom daar by die viswaters.”
Van Coller is ‘n natuurliefhebber en gaan ook gereeld stap.
Sy is boonop ook nog ‘n slimkop. Sy studeer BSc.Geologie.
“Geologie is baie van toepassing in ons ontwikkelende wêreld en skep ook vir my die kans om baie van die wêreld te kan sien,” het sy verduidelik.
Die geheim van haar sukses in die lewe en ook langs die viswaters is om nederig te bly en ander mense te help sonder om iets terug te verwag.
“Dan besef ‘n mens dat jy dankbaar moet wees vir wat jy het en altyd hard moet werk om iets te bereik.
“Niks kom van self nie.”



