Nick Venter wil weer die Bergrivier-wedvaart aanpak
Sakeman roei soveel as wat hy kans kry
SECUNDA – Nick Venter (66) het begin roei toe hy as jong onderwyser by Hoërskool Transvalia op Vanderbijlpark begin werk het en die roeispan moes afrig.
Hy het self begin roei en dit so geniet, dat hy dit as ‘n sport begin beoefen het en selfs in 1981 sy Springbok-kleure in roei verwerf het.
Venter het destyds aan die Statebondspele in Engeland deelgeneem saam met drie spanmaats, Bennie Rinders, Pierre van der Merwe en Greyling Viljoen.
Suid-Afrika is destyds verban om aan die Statebondspele deel te neem weens apartheid en Venter en sy spanmaats kon dus nie as ‘n Springbokspan oorgaan nie, hoewel hulle gekwalifiseer het.
‘n Roeiklub van Engeland, die Wild Water Racers, het die roeispan egter die kans gebied om vir die klub deel te neem.
Volgens Venter het dit nie so goed gegaan nie.
Hulle het net ‘n brons medalje verower en vierde in die Statebondspele geëindig.
Die geheim daarvan om in ‘n K4 (‘n kano wat vier roeiers kan vat), te roei, is dat al vier roeiers hul spane gelyk in die water moet sit.
“Dit neem oefening om dit reg te kry,” het Venter gesê.

Hy het steeds kontak met sy spanmaats van die Statebondspele, maar sy nuwe spanmaat wat saam met hom aan wedvaarte deelneem, is Lean Pretorius (42), ook van Bethal.
Hulle oefen saam so drie of vier keer weekliks en lê sowat 30km weekliks af.
Hulle het in April verlede jaar aan die Orange Descent Kano-wedvaart vanaf Upington na Kakamas deelgeneem. Venter het gesê dit was ‘n “lekker” wedvaart.
“Dit was ‘n vinnige wedvaart met baie groot stroomversnellings en maalkolke wat ‘n uitdaging was,” het Venter gesê.
Die roeipaar het 17de in dié wedvaart geëindig.
Hulle het ook al verskeie kere die Bergrivier-wedvaart wat oor vier dae strek, gedoen. Roeiers moet dan 260km in dié tydperk aflê.
“‘n Mens moet minstens al ses maande voor die tyd intens begin oefen vir dié wedvaart,” het Venter gesê.
Een van die nadele van die Bergrivier-wedvaart is dat ‘n mens dan in die middel van die winter moet voorberei en oefen.
Dit sit die roeipaar nie af nie, want hulle het al in die winter in die oggende net na sonsopkoms geoefen.
Dit is op Venter se wenslys om nog een keer aan die Bergrivier-wedvaart deel te neem.
Hy en Pretorius het vanjaar nog nie aan wedvaarte deelgeneem nie omdat albei se skedules vol is.
Albei werk voltyds in hul eie ondernemings en het net na-ure tyd om te oefen.
Venter is deesdae meeste van die tyd by die koffiewinkel, Symphony’s, wat hy en sy vrou, me. Julia Venter al vir 18 jaar besit.
Hy het jare gelede ‘n houtwerkonderneming op Vanderbijlpark gehad, maar beoefen houtwerk nou net as ‘n storkperdjie.
Hy het self al die tafels in die koffiewinkel gemaak toe die koffiewinkel ses jaar gelede vanaf die sentrale sakekern na Secunda Mall getrek het.
Venter het ook al sy lyf boer gehou en het vir ‘n rukkie op ‘n plaas naby Davel geboer.




