Hengelaars weeg 304 visse van 188.604kg by klubkompetisie in
Elaine Munro het die vroue-afdeling beklink met nege visse van 6.615kg.
Altesaam 59 hengelaars het op Saterdag 10 Januarie aan Meyerville Hengelklub se klubkompetisie deelgeneem en 304 visse met ‘n totale gewig van 188,604kg vasgekap.
Die vis van die dag is aan die swaarste sak modderbek toegeken.
Pikkie Gleeson was onoorwonne in die meestersafdeling met sewe visse van 5,980kg, gevolg deur Peet Erasmus met sewe visse van 5,731kg en Koos Nel met ses visse van 5,844kg.
Die vis van die dag in dié afdeling het aan Thys Koen gegaan.
Shawn Munro het in die seniorafdeling geseëvier met 22 visse van 20,268kg, terwyl Richard Hills met 25 visse van 12,628kg tweede geëindig het en Danie Human met 22 visse van 15,038kg derde.
Human het in dié afdeling die vis van die dag inkatrol.
Elaine Munro het die vroue-afdeling beklink met nege visse van 6,615kg, gevolg deur Marianne Erasmus met agt visse van 4,857kg en Louisa Nel met vier visse van 3,52kg.
George Terreblanche het die penkopafdeling gewen met 10 visse van 7,504kg.
Ricardo van Wyngaard met sewe visse van 4,040kg was tweede en Ruan van Zyl met ses visse van 2,605kg derde.



