Local sportSport

Covid-19: Leon Booyens van Secunda pak half-maraton by die huis aan

Booyens het geweet dit sal stadiger wees as om op die pad te hardloop, en het dus besluit om dit lekker te maak en die braaivleisvuur so halfpad deur sy roete aan te steek.

SECUNDA – Om ’n half-marathon te hardloop in die inperkingstyd in Suid-Afrika is nie maklik nie, maar Leon Booyens (33) het dié 21km op Saterdag, 11 April in sy erf aangepak.

“Dit was baie tough, ek sou dit nie kon doen sonder my vrou, Tanya Booyens en kinders Tiaan (7) en Eben (3) se ondersteuning nie. Hulle het vir my ’n “aid station” opgerig en gesorg vir water, bier en peusel happies,” het Booyens vertel.

Hy het sowat ’n week voor die tyd die roete rondom die erf gemeet. Dit is sowat 240m.

Hy het toe besluit om sy horlosie se GPS te gebruik en aan te hou rondtes doen totdat dit by 21,1km geëindig het.

Booyens het geweet dit sal stadiger wees as om op die pad te hardloop, en het dus besluit om dit lekker te maak en die braaivleisvuur so halfpad deur sy roete aan te steek.

“Ongelukkig het ek die vuur te vroeg aangesteek en my vrou moes toe braai. Ek het laaste 2km met dop en tjop gedoen,” het hy geskerts.

Om fiks te bly probeer Booyens om twee drafstappies te doen per week, maar het ook ’n oefenfiets wat hy een of twee keer per week trap.

Hy gebruik ook ’n kruiwa om sy twee seuns rond te stoot.

“My geheim is maar om die kinders in te sluit in die oefening en om hulle ook besig te hou,” het Booyens gesê.

Booyens het vanjaar die Sasol Marathon in Secunda in ’n tyd van vier ure en 55 minute met ‘n lengte van 42km voltooi. Hy het ook die 42km wedloop van die Kosmos 3-in-1-wedloop in ’n tyd van vier ure en 43 minute voltooi. Sy beste tyd vir ’n 21km-wedloop is twee ure en drie minute.

“Ek doen graag “trail running”.

“Die wedlope was in voorbereiding vir ’n 32km-resies in die Drakensberge wat teen die einde van April sou plaasvind, maar dit is weens die inperking gekanselleer.”

Booyens behoort nie aan ’n klub nie en hy hardloop sommer graag op sy eie.

Sy raad aan ander drawwers tydens die tyd van inperking is om nie alles waarvoor hulle reeds geoefen het, tot niet te laat gaan nie omdat ’n wedloop afgestel is nie.

“Soek iets later in die jaar en skuif jou fokus. My volgende mikpunt is die is Mac Mac-wedloop van 46km teen die einde van Mei en dalk die Karkloof 50 of 100 myl-wedloop in September.”

Leon Booyens stoot sy twee seuns, Tiaan en Eben, in ’n kruiwa vir oefening en om hulle besig te hou.
Leon Booyens is hier by die water- en peuselhappie-stalletjie wat sy gesin opgestel het vir sy half-marathon om hul huis op 11 April.
Leon Booyens se gesin het dié water- en peuselhappie-stalletjie opgeslaan vir sy half-marathon om hul huis op 11 April.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button