Nico van Jaarsveld en gesin aktief besig met wedvlugduiwe
Donderdagaande is wanneer die duiwe gemandjie word en die tog aanpak na plekke soos Winburg, Verkeerdevlei, Bloemfontein, Dewetsdorp tot by Smithfield.
Die Van Jaarsveld-gesin is almal pens en pootjies betrokke by die vlieg van duiwe. Nico van Jaarsveld van die Standerton Posduifklub het sowat 200 duiwe, wat broeiduiwe insluit, wat aan die jaaroud- of ope-afdeling kan deelneem. Donderdagaande is wanneer die duiwe gemandjie word en die tog aanpak word na plekke soos Winburg, Verkeerdevlei, Bloemfontein, Dewetsdorp tot by Smithfield. Nico wat sedert 1996 lid van die klub is, se vrou, Reinette is die sekretaresse wat klublede op hoogte van klubduiwe se prestasies hou. “Dit is ‘n ontspannende sport,” het Nico gesĂȘ. Hy bestuur nou sy eie onderneming wat groente aan ondernemings en skole verskaf. Denise (12) en Michael (9) gaan moontlik volgende jaar in die juniorafdeling meeding en ma Reinette het laat blyk dat hul moontlik die enigste gesin is wat almal aktief by die sport betrokke is. Die klub het sewe lede en die ringlede gebruik die klub slegs vir daardie doel. Nico het twee hokke by die huis en span gewoonlik 30 duiwe in vir wedvlugte oor naweke. “Dit bly maar ‘n dobbelspel,” het Nico bygevoeg. Normaalweg geskied wedvlugte vanaf 1 Junie tot begin Oktober, maar vanjaar se Covid-19 regulasies het die klub genoodsaak om eers op 25 Julie te begin. Wedvlugte geskied weekliks. Dit is ‘n relatief duur sport as ‘n mens die kos, medisyne, toerusting en brandstof in ag neem, hoewel die Van Jaaarsveld dit nie vir enige ander sport sal verruil nie. Sekere duiwe kry ook name. Standerton Posduifklub het ook ‘n lekkerte by vergaderings na die ‘koekwedvlugte’, so genoem vir die lid wat die 20ste plek behaal het. Daar moet dan ‘n koek vir die vergadering gereed wees. “Dit ‘n baie lekker sport,” het Nico mee afgesluit.




