Local sportSport

Secunda se Yané van der Merwe bereik nuwe atletiek-hoogtes aan Universiteit van Johannesburg

Jong atleet kry toekenning in Johannesburg.

SECUNDA – Me. Yané van der Merwe (20), oud-leerder van Hoërskool Secunda, is onlangs vereer vir haar harde werk op die sportveld.

Yané studeer tans sportontwikkeling aan die Universiteit van Johannesburg en beplan om ook haar honneursgraad in sportwetenskap te doen.

Sy doen al sedert haar hoërskooldae atletiek en het op skool gereeld uitgeblink in spiesgooi, skyfwerp en gewigstoot.

Sy was vanjaar genomineer vir die toekenning vir Sportvrou van die Jaar met ‘n Gebrek en sy het tweede in dié afdeling geëindig. Dié rooitapyt-geleentheid is deur die organisasie, Johannesburg Women in Sport, gereël en het op Vrydag, 28 September in Johannesburg plaasgevind.

Verskeie vroue in Johannesburg en die omgewing is vir dié toekenning genomineer. Van der Merwe was verbaas dat die gemeenskap en organiseerders haar genomineer het.

“Dit is vir my ‘n baie groot eer dat hulle my raaksien,” het sy gesê.

Van der Merwe is met ‘n klompvoet gebore en het, vandat sy net ‘n paar weke oud was, totdat sy 13 jaar oud was, verskeie operasies ondergaan om haar voet reg te maak, maar sy kan nie haar regterenkel beweeg nie en moet dus nou ‘n spesiale skoen aan haar regtervoet dra.

Sy moes baie uitdagings in haar atletiekloopbaan oorkom.

Haar een been is 2cm korter as die ander een en dit veroorsaak rugpyn as sy nie haar spesiale skoen dra nie. Sy het dié skoen eers toe sy bykans klaar was met skool begin dra en het voor dit daagliks rugpyn gehad.

Dit het Van der Merwe egter nooit gekeer om uit te blink op die sportveld nie en sy het op skool aan hokkie, meisieskrieket en atletiek vir nie-gestremdes deelgeneem.

Sy het in haar matriekjaar vir die eerste keer aan die Paralimpiese Atletiekkampioenskap deelgeneem en het inderdaad haar merk in die atletiekwêreld gemaak.

FOTO: Yané van der Merwe het ’n sporttoekenning in September verwerf.

Sy het ook in daardie jaar vir die eerste keer oorsee gegaan om in Portugal aan die internasionale atletiekkampioenskap deel te neem. Sy het met die goue medalje in spiesgooi en ‘n silver medalje in gewigstoot weggestap en het vierde in skyfwerp geëindig. Sy het in 2018 ‘n nuwe rekord by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap in skyfwerp vir gestremdes opgestel het en derde in spiesgooi en gewigstoot geëindig.

Van der Merwe het verlede jaar in die Paraplegiese Junior Atletiekkampioenskap wat in Switserland gehou is, ook uitgeblink en het derde in spiesgooi geëindig en vierde plekke in gewigstoot en skyfwerp behaal.

Die inperking het die universiteitslewe vir studente so bietjie verander en Van der Merwe voltooi tans haar tweede jaar op universiteit in haar ouerhuis op Trichardt deur middel van aanlynklasse en toetse.

Hoewel haar afrigter in Gauteng woon, oefen sy steeds daagliks by Laerskool Trichardt, waar sy haar laerskoolloopbaan voltooi het. Sy en haar afrigter, mnr. Pierre Blignaut, stuur vir mekaar video’s om met die oefenproses te help.

Van die liggaamsbouoefeninge wat sy moet doen, doen sy met haar eie toerusting in haar ouerhuis en het dus nie nodig om by ‘n gimnasium uit te kom nie.

Sy het voorberei om vanjaar aan die Paralimpiese Spele in Japan deel te neem, maar weens die wêreldwye inperking en die Covid-19-pandemie, is dit uitgestel na volgende jaar.

Sy sou ook in Desember vanjaar in Thailand aan ‘n atletiekkampioenskap gaan deelneem het om meer blootstelling van internasionale atletiekkampioenskappe te kry, maar dit is ook weens Covid-19 gekanseleer.

“Ek was nogal teleurgesteld dat dit gekanseleer is, want ‘n mens werk so hard tydens die inperkingstyd en ek sou graag wou sien hoe ek daar vaar.”

Van der Merwe het op skool al in fotografie begin belangstel en vir Hoërskool Secunda se fotografieklub foto’s geneem. Sy beoefen steeds dié stokperdjie as sy die kans kry en neem graag aksiefoto’s van mense wat aan sport deelneem.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button