Gholfspelers hou die gholfsakke in gereedheid vir verskeie kompetisies op Standerton
’n Medal-kompetisie is op Woensdag 7 Julie by die Standerton Buiteklub aangebied wat oor nege en 18 putjies beslis is.
Gholfspelers op Standerton het hul vaardighede die afgelope week geslyp.
’n Medal-kompetisie is op Woensdag 7 Julie by die Standerton Buiteklub aangebied wat oor nege en 18 putjies beslis is.
In eersgenoemde wedywering het Wian Starbuck met ’n netto van 34 koning gekraai, gevolg deur Deon Grimsell met ’n netto van 35 en Nic Momberg met ’n netto van 37.
Die volgende drie plekke is ingeneem deur Lourie Nel met 41, Theuns Adendorff met 42 en Gerrit Nel met 43.
Ronald Kinnear het oor 18 putjies geseëvier met ’n netto van 69, terwyl Kobie Coetzee 71 en Joré Nortjé 72 op die telkaart ingevul het.
Damian Brink het die vierde plek behaal met ’n netto van 73, gevolg deur Louis Gravett met 75 en Gerrit Coetzee met 76.
Attie Mouton, sowel as RJ Kinnear, het ook 76 aangeteken, terwyl die agterhoede gevorm is deur Nico Lombard wat 78 aangeteken het en Bertus Nel 79.
Altesaam 32 spelers het ook op Saterdag 10 Julie aan ’n kompetisie in IPS-formaat deelgeneem.
Wikus du Preez was onoorwonne nadat hy 39 punte aangeteken het, met Francois Cronjé wat in sy nek, ook met 39, geblaas het.
Willie Griesel het die derde plek met 37 behaal, gevolg deur Deon Grimsell en Aldo Arnaldi albei met 36.
Jabbies Lotz en Joré Nortjé het albei 35 punte behaal, terwyl Julene Willemse, Juan Nortjé, RJ Kinnear en Nico Lombard 33 aangeteken het.





