Sasol Digi Mag Rugbyklub oorheers Premierliga
Die tweedespanne het gelykop 10 elk geëindig en deel nou die trofee.
Sasol Digi Mag Rugbyklub is vanjaar die sterre van die Mpumalanga Premierliga.
Die eerstespan het Saterdag, 30 Julie, vir Witrivier met 33–21 in die eindstryd op Secunda geklop en die tweedespan deel hul trofee ná ’n gelykop-wedstryd.
Die dinamika tussen die Sasol-spelers het gevloei en veral die agttal het in die eerste helfte geskitter.
Die eerste drie van die wedstryd was ’n spanpoging van slot Kyle Howard, agsteman PJ van Zyl, toekantflank Brandon Potgieter, vaskopstut Jandré Matthee en slot Mike van Vuuren.
Howard en Van Zyl het by mekaar ingehaak met die res wat in ’n bondel van agter tot oor die doellyn gestoot het sodat Potgieter die drie kon plant.
Heelagter Marinus van der Merwe het die drie verdoel.

Nie te lank hierna nie, het kaptein Anwar Fillis die bal in die halfgebied van Coetzee ontvang en, onder luide toejuiging, aan die kantlyn afgenael na die doellyn en die bal agter die pale gaan druk.
Van der Merwe se skopvoet het nie beskaam nie en die telbord het na 14–0 in Sasol se guns opgegaan.
Teen hierdie tyd het Witrivier se spelers effens verslae en moeg voorgekom en het hul aanvalle net nie vrugte afgewerp nie.
Die besoekers was nog meer afgehaal toe Van Zyl die bal uit ’n verdedigende lynstaan opgeraap, na die verste hoekie oopgelê het en vir ’n drie oorgeduik het.
Van der Merwe het die drie verdoel en telling na 21–0 opgestoot.
Fillis het kort hierna die bal vir vleuel Dirk Lowies aangegee vir nóg ’n drie in die oorkantste hoek.

Dié verdoelde drie het die puntestand na 28–0 in Sasol se guns verander.
Howard het Sasol se laaste punte in die wedstryd aangeteken toe hy bykans bo-oor Witrivier se haker, Jacques Taylor gestorm het, albei deur die lug gerol het en Howard steeds met die bal in die hand op die doellyn te lande gekom het om die drie te druk.
Die wind het teen hierdie tyd opgekom en Van der Merwe se kop verby die pale gestuur.
Witrivier se ommeswaai het begin toe hul bitsige voormalige Puma-senter, Jerome Pretorius, die bal wat pas uit ’n skrum in die halfgebied gekom het, voor Sasol se neuse onderskep het en so vinnig op die
doellyn afgepyl het dat niemand naby hom kon kom nie.
Losskakel Stephan van der Bank het dié drie verdoel en die telling na 33–7 verander.
Die halftydfluitjie het net betyds geblaas vóór Witrivier nog ’n aanval kon loods.

Dié span het met nuwe ywer vir die tweede helfte opgedraf.
Hulle het aangeval en die tweede helfte, wat meestal in Sasol se kwartgebied afgespeel het, oorheers.
Hoewel Sasol se verdediging die meeste aanvalle afgeweer het, het Witrivier se vleuel, Boeta Botha nog twee keer deurgebreek en drieë gedruk.
Van der Bank se sekure skopvoet het veral beïndruk.
Sasol het ’n drie verbeur toe Fillis na die doellyn gehaas het, maar die bal op die grond beland het. Theuns Kruger het op die bal geval vir ’n drie maar weens die fout is die drie nie toegeken nie.
Die eindtelling was 33–21 in Sasol Digi Mag se guns.
Steyn van den Heever en Marinus van der Merwe is as die Spelers van die Wedstryd aangewys.
Die Sasol Digi Mag Rugbyklub se tweedespan het ook die eerste punte in hul wedstryd aangeteken en die eerste helfte oorheers.

’n Strafdoel en ’n verdoelde drie het gesorg dat Sasol teen halftyd met 10–0 voorgeloop het.
Witrivier het egter in die tweede helfte die punte na 10–10 opgestoot.
Die wedstryd het op dié gelykoptelling geëindig en is daar besluit dat die Sasol en Witrivier die trofee deel.

Lodewyk Uys, hoofafrigter, het sy mede-afrigters, Francois Jacobs, Jannie van der Merwe en Lionel Visser se lof besing oor die groot impak wat hulle gemaak het om ’n goeie span na die volgende trappie te vat.
“Sonder hulle was daar vir seker nie vandag ’n titel nie.
“Verder is dit ’n voorreg om die Here deel te hê van ’n span en sy teenwoordigheid in te neem, week na week.
“Alle eer aan Hom vir elke greintjie sukses en geluk wat Sasolklub geniet,” het Uys afgesluit.

https://www.citizen.co.za/ridge-times/294153/galery-sasol-digi-mag-rugbyklub-is-premierliga-wenners/



