Local sportStreeknuus

Delmas Rugbyklub sluit seisoen op gesellige noot af

Christo Marx is as die Speler van die Jaar aangewys.

Die manne van Delmas Rugbyklub het aan dié wat gedurende die 2022-seisoen presteer het, erkenning gegee.

Dié gesellige aand het op Vrydag, 29 Julie by die Danskraal op Sundra plaasgevind.

Getroue ondersteuners, spelers en hul gades, asook Gesie van der Merwe, rugbybestuurder van die Valke Rugbyunie, het die geleentheid bygewoon.

Werner Venter en Jandré Senekal het die verwelkoming en prysuitdeling behartig.

Tydens sy toespraak, het Venter die spelers bedank wat week vir week bereid was om te oefen, al het die klub nie oor hul eie velde beskik nie.

Aan die stuur van die Delmas Rugbyklub is Geoffrey Marais, Jandré Senekal en Werner Venter.

“Met ons spelers se deursettingsvermoë en die goedhartigheid van soveel mense, het ons baie bereik.”

Eregaste is bedank, die eienaars van die Danskraal vir hul ondersteuning en borge deur die jaar, top ondersteuners, en die gades van spelers wat uit hul pad gegaan het om van elke wedstryd ’n sukses te maak.

Streeknuus is ook bedank vir hul positiewe bydrae tot die oplewing van die klub.

Vir die Delmas Rugbyklub was die afgelope paar jaar nie maklik nie.

Die Delmas Rugbyklub se span van die afgelope 2022-seisoen.

Gedurende 2019 het die klub afgebrand en was die spelers gestrand met geen velde en geen vooruitsigte nie.

Boonop het Covid-19 gekom en was daar nie sprake om die klub weer op die been te bring nie.

“Ons het soveel drome vir die klub gehad, maar Covid het gekom. Ten spyte van al die negatiwiteit het ons die nuwe seisoen aangepak.

“Dit sou nie moontlik gewees het sonder ondersteuning en ons spelers self nie,” het Senekal gesê.

Volgens Van der Merwe, het sy die span vroeg in die seisoen geskakel en gevra of hulle bereid sou wees om aan die Valke Kestrell-liga deel te neem.

Jandré Senekal en Gesie van der Merwe.

Na beraadslaging, het die klub eenparig besluit dat, kom wat wil, hulle deel van die liga sou wees.

Die klub het, afgesien van ’n moeilike weer-begin, uit die as opgestaan en puik rugby gespeel.

Die Delmas Rugbyklub het ook deurgedring tot die halfeindronde van die Kestrell-liga.

Die wedstryd is op Vanderbijlpark teen die span van Vanderbijlpark gespeel en die Delmassers het met slegs een punt verloor.

Hier word ’n spesiale oomblik tussen Arno Loggerenberg en afrigter, Jandré Senekal, gedeel.

Elke rugbyspeler is met ’n medalje vereer en daarna was dit tyd vir die trofees en verskeie spelers is vir puik spel vereer.

Aan die einde van die aand is die Presidentsbeker deur Van der Merwe aan Werner Venter toegeken en Christo Marx is as die Speler van die Jaar aangewys.

Krynouw Roux is as die Sportman van die Jaar gekroon.

Met die formaliteite afgehandel, was dit tyd vir heerlik smul aan die disse wat deur die Danskraal voorgesit is en kon die spelers gesellig saam kuier en rugbystaaltjies deel.

“Ek haal my hoed af vir ons span, hulle is ’n wonderlike groep manne, op die veld en van die veld af.

“Ons sien baie uit na die volgende seisoen en om al die negatiwiteit van die verlede uit te skakel en bobaas-rugby vir Delmas en ons ondersteuners te kan bied,” het Senekal afgesluit.

Werner Venter staan gereed om aan elke speler erkenning te gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button