Local sportStreeknuus

Bronkies-inwoner en SA-titelhouer deel nou sy liefde vir boks

Op die ouderdom van 10 het Nel vir die eerste keer sy bokshandskoene aangetrek, in die bokskryt geklim en begin om aan sy droom te bou.

Sy liefde vir boks het voor die radio ontstaan.

Daar waar drie keer SA-bokstitelhouer, Anton Nel, en sy pa in die vroeë oggendure voor die radio gesit het en na uitsendings van boksgevegte geluister het.

“Ek glo daardie uitsendings wat ek saam met my pa geluister het, het die saadjie vir boks in my geplant.

“Ek het toe al vir my pa gesê dat ek ook eendag wil boks,” het Nel gesê.

Op die ouderdom van 10 het Nel vir die eerste keer sy bokshandskoene aangetrek, in die bokskryt geklim en begin om aan sy droom te bou.

Volgens Nel, het sy boksloopbaan in 1992 afgeskop.

“Ek het die voorreg gehad om deur een van die wêreld se bestes, oorlede Nick Du Randt, afgerig te word.”

Deur baie harde werk, deursettingsvermoë en die wil om daar te kom, het Nel op 15 Desember 1999 vir die eerste keer die SA-titel ingepalm.

Tydens die boksgeveg het hy teen Sam Ubokane te staan gekom.

“Niks het ooit van self gekom nie. Ek moes baie hard oefen om sukses in my boksloopbaan te bereik,” het Nel verder laat hoor.

Nog was dit nie die einde nie en op 19 Augustus 2001 het Nel weer die titel verower. Dié keer het hy teen Kokkie Oberholzer in die kryt te staan gekom.

Nel se derde titel het hy op 5 Oktober 2013 beklink toe hy teen Hein Bosch geboks het.

Volgens Nel, het hy ook teen ’n paar groot name in die internasionale bokswêreld te staan gekom.

Anton Nel, drie keer Boks SA-titelhouer. Foto: Verskaf

“Die laaste van die gevegte was in 2016 teen Osborn Machimana.”

Nel was toe reeds 48 jaar oud.

“Die volgende logiese stap in my loopbaan is om my liefde vir boks met ander te deel.

Nel, ’n inwoner van Bronkhorstspruit, beplan om ’n boksklub op Bronkhorstspruit te open.

“Hierdeur kan ek my liefde en kennis van boks oordra aan opkomende kampioene. Boks was nog altyd my passie en ek wil deur middel van die klub dit met jonk en oud deel.”

Nel wil ook fiksheidsklasse vir jonk en oud aanbied.

“Dit moet ’n bymekaarkomplek wees vir jonk en oud, mans en vroue. ’n Plek waar die publiek van die spanning die dag en daardie oortollige gewig ook kan ontslae raak. ”

Daar is niks so lekker as om uit die gimnasium te stap en ontslae te wees van al die spanning van die dag nie.

Oefening skop reeds op Donderdag, 1 September af, maar die Anton Nel Fitness Boxing Gimnasium open op Saterdag, 3 September formeel sy deure op die perseel van die iActive gimnasium in Von Willichlaan,

Versterpark op Bronkhorstspruit.

“Ek wil net van die geleentheid gebruik maak om vir Deon Viljoen, die eienaar van iActive Gym, baie dankie te sê vir die geleentheid om hierdie droom van my werklikheid te maak.”

’n Hele paar groot name vanuit bokskringe gaan die opening bywoon. “Ek het ’n paar vriende genooi en gaste kan daarna uitsien om vir Brian Mitchell, Harold Volbrecht, Dingaan Thobela en Phillip Ndou en

ander veterane vanuit die bokswêreld te ontmoet.”

“Dit gaan vir my daaroor om ‘n band met almal te vorm en ’n ‘Boxing Fitness’-familie te bou en my groot liefde, boks, met die wêreld daar buite te deel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button