Local sport

Jong Secunda-rugbyspeler speel in Curriebekerspan vir 0/21 ná vele operasies

Ná Bowen Bezuidenhout sy enkel gebreek het, moes hy ’n plaat en skroewe in sy voet kry, maar dit was egter nie mooi belyn nie. Die spiere het begin doodgaan, sy voet het begin opswel en hy het ’n toestand wat as kompartement-sindroom bekendstaan, gekry.

Bowen Bezuidenhout (20) is ten spyte van baie uitdagings, gekies om vir die Pumas se 0/21 Curriebekerspan rugby te speel.

Dié belowende jong rugbyspeler het aan Hoërskool Secunda gematrikuleer en is na sy matriekjaar Stellenbosch toe om daar voltyds vir die Akademie van Sport rugby te speel.

Hy is sommer in sy eerste jaar as Speler van die Jaar aangewys.

Hy het egter gedurende sy skooljare reeds in dié sport uitgeblink en dokters verstom gelaat toe hy in 2017 sy enkel gebreek het en ’n jaar later weer terug was op die rugbyveld. Dit nadat dokters gesê het hy sou nooit weer kon loop nie en selfs sy been wou afsit.

Dit was ’n moeilike tyd in Bezuidenhout se lewe en hy het selfs op ’n stadium aan selfmoord gedink.

“My oupa het vir my ’n prentjie van ’n anker gestuur met die woorde ‘Refuse to Sink’. Dit het net met my gepraat en my die moed gegee om aan te hou veg,” het Bezuidenhout vertel.

“Ek sal nooit weer eers aan selfmoord dink nie, dit was net ’n baie lae punt in my lewe.”

Ná hy sy enkel gebreek het, moes hy ’n plaat en skroewe in sy voet kry, maar dit was egter nie mooi belyn nie. Die spiere het begin doodgaan, sy voet het begin opswel en hy het ’n toestand wat as kompartement-sindroom bekendstaan, gekry.

’n Week voor hy sy enkel beseer het, het hy sy pinkie ook oopgeskeur.

Dit was tydens ’n opvolg-afspraak vir sy pinkie dat die dokter gemerk het dat daar groot fout is met sy enkel en hom aanbeveel het om ’n dokter in Pretoria te gaan sien.

Daar moes Bezuidenhout nege operasies in ’n jaar ondergaan om sy enkel weer reg te maak.

Die tweede laaste operasie was die groot een wat 10 ure geduur het.

Dokters moes van die weefsel in sy bo-been uithaal en dit op sy enkel inplant.

Die verpleegpersoneel het sy been in ’n suurstof-tenk geplaas en Bezuidenhout glo dit het sy been gered, want toe hy daar uitgekom het, het die dokters gesê sy been lyk baie beter.

Hy het, toe hy uit die hospitaal ontslaan is en by sy ouerhuis aangesterk het, eers met krukke om die huis begin loop, toe sonder krukke. Hy het later om die blok begin stap.

Nog later het hy om die blok begin draf en sodoende weer begin oefen.

Net ’n jaar en ’n week na sy besering, was hy weer op die rugbyveld toe hy vir die Mpumalanga Rhinos se 0/17-sewesspan uitgedraf het.

“Dit was ’n ongelooflike gevoel om weer te kon rugby speel.”

Bezuidenhout het aan die einde verlede jaar die ligament in sy knie geskeur en weer in Junie vanjaar op presies dieselfde plek.

Bezuidenhout het die tweede keer nie eers agtegekom hy het sy ligament geskeur nie. Die fisioterapeut het dit tydens ’n behandeling opgemerk.

Hy is tans op Secunda waar hy van sy knie-besering herstel hoewel hy steeds in die gimnasium kan oefen.

Hy oefen ook tans twee keer weekliks op Middelburg saam met die Pumas-span.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button