Editor's note

Die Kersboom

Ons bestee almal só baie aan Kersgeskenke en vergeet soms die ware geskenk van Kerstyd - die Kind wat vir ons gebore is, wat later aan die kruis vir ons gesterf het en nou aan die regterhand van die Vader sit.

Elke jaar wanneer ondernemings begin om hul Kersversierings op te sit, kry ek ’n knop in my keel.

Dit maak my depressief, want dit bring hartseer herinneringe.

Ek het arm grootgeword en daar was nie altyd groot Kersgeskenke nie – ook selde ’n Kersboom.

Ek onthou ek, my sussies en boetie het een Kersfees self ’n boom uit foelie en karton gemaak.

Ons was baie trots daarop, maar iets het ontbreek, ons het nie versierings gehad nie!

Ons het in laaie en kaste gekrap en uiteindelik op ’n klompie verjaarsdagkersies afgekom.

Ons het hulle op ons boompie geplak.

Dit was pragtig, maar iets het steeds gekort.

Ons het gewonder hoe dit sou lyk as die kersies brand en het nie twee
keer gedink nie en hulle aangesteek.

My een sussie het dadelik gehardloop om ons ouers te roep om na die spektakel te kom kyk.

Sy was egter skaars weg toe die hele buurt ons ander hoor skree het.

Nodeloos om te sê, die boompie het vlamgevat en ons het almal onder Pa se plathand deurgeloop!

Dan was daar die keer toe ek met my poppie by ons bure se dogtertjie gespog het.

Ek het haar gevra waar haar poppie was, maar sy het begin huil en gesê sy het nie een gekry nie, want, toe sy haar ouers gevra het waar haar Kersgeskenk is, het hulle haar geslaan en gesê daar is nie geld nie.

Sy het gesê hulle was vreeslik dronk en het gesê sy moet buite gaan speel en mag nie die hele dag in die huis kom nie.

Ek het met trane in my oë my poppie aan haar gegee.

Ons bestee almal só baie aan Kersgeskenke en vergeet soms die ware geskenk van Kerstyd – die Kind wat vir ons gebore is, wat later aan die kruis vir ons gesterf het en nou aan die regterhand van die Vader sit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button