Wees weer soos ‘n kind
Wanneer laas het jy God jou naam hoor roep? Of is jy, soos ek, net té besig met die wêreld se dinge?

Ek was onlangs in die bevoorregte posisie om te sien hoe ’n hele klompie baba’s en kinders gedoop en ingeseën is.
Dit was ’n lang proses en dalk vir baie mense vervelig.
Maar, aai, daardie pragte onskuldige en rein gesiggies – en hartjies – het my hart warm laat klop.
Jesus het nie verniet gesê dat die kindertjies na Hom toe moet kom nie, want aan hulle behoort die Koninkryk.
Daarom het Hy ook gesê ons moet soos kinders in Hom glo.
Daardie kleingoed op die ver-hoog het my Sondag weer daaraan herinner om soos ’n kind te glo en ek het myself weer belowe om myself daagliks in Sy hande te plaas met die vaste vertroue en geloof dat Hy my sal lei.
Die evangelis Reinhard Bonnke van Duitsland het eendag vir God gevra uit watter Bybelboek God wil hê hy moet lees.
Hy was erg verbaas toe God gesê het hy moet I en II Kronieke hardop lees.
“Maar, my Vader,” het Bonnke gesê, “dit is dan net ’n klomp name, waarvan ek die meeste nie eens kan uitspreek nie!”
“Ek weet, maar ek het só lanklaas daardie name gehoor en elkeen van dié name is vir my baie spesiaal,” het God geantwoord.
Dit het Bonne baie lank geneem, maar hy het elke naam hardop voor die Here uitgespreek.
My vriende, die kleingoed wie se name hardop voor ons Vader genoem is, is vir Hom belangrik, en net so is een en elkeen van ons se name vir Hom dierbaar.
Wanneer laas het jy God jou naam hoor roep?
Of is jy, soos ek, net té besig met die wêreld se dinge?