School sportSportUpdate

Laerskole se krieketreeks ‘n platform vir T20

"Dit sal beslis jong spelers vir T20 in die toekoms voorberei"

Die tesourier van Sentraal-Wes Krieket, Anton Enslin glo die Laerskool Krieketunie se 15/15 Aandreeks sal beslis jong spelers vir T20 in die toekoms voorberei.

“Daai speler wat nie eendag- of toetskrieket in die toekoms op Lords in Engeland wil gaan speel nie maar eerder naam in die Indiese Premierliga (IPL) wil maak, sal beslis goed voorbereid wees as hulle aan hierdie opwindende 15/15 Aandreeks deelgeneem het,” het Anton gesê.

“Daar is minder beurte, ‘n ander kleur bal, nuwe reëls, ‘n vinnige pas en die spelers speel in helder klere. Gooi die opwinding daarby en dit sal spelers en selfs afrigters voorberei op dit wat van hul verwag gaan word in die toekoms.”

Anton verduidelik, “In die laat negentigs het André Niehaus (toe van Laerskool Jozua Naude) en Skip Viljoen (toe van Hoërskool Roodepoort) ‘n aandreeks vir laerskole op die been probeer bring wat op Hoërskool Roodepoort se veld gespeel sou word. Die reeks sou uit dertig beurte per kant bestaan het met een wedstryd per week oor ‘n lang tydperk, maar dit het ongelukkig doodgeloop.

“In 2002 het ek en Leonard Vorster (toe van Laerskool Helderkruin) die dertig-beurte-aan-‘n-kant-reeks by Laerskool Helderkruin aan die gang gekry. Laerskool Generaal de la Rey het toe die Kleinskole-afdeling gewen en Helderkruin is as die kampioen vir Grootskole aangewys. Daar was toe slegs vier skole per afdeling.

“Met die koms van die Pro20-reekse op nasionale en internasionale vlak het Danie Volkwyn, (toe van Weltevreden Park Primary) voorgestel dat ons na ‘n soortgelyke reeks vir die laerskole moet kyk, maar wat slegs oor 15 beurte gespeel sal word. Onder die leiding van die Sentraal-Wes bestuur het die o.13 Sentraal-Wes Laerskole Krieket Unie se 15/15 Aandreeks toe in 2003 afgeskop met 16 skole en dit is elke jaar tot 2012 beslis.

“In 2013 sal daar 12 skole in aksie wees met baie meer wedstryde per skool, en ‘n baie groter mededingendheidsfaktor”.

Anton sê verder, “Wat die reeks meer opwindend maak is die atmosfeer – die rook van die braaivleisvure wat oor die veld hang en die aksiebelaaide krieket op die veld.

“Dis iets wat die kinders, hul ouers, afrigters, skeidsregters en al die toeskouers baie geniet. Twee wedstryde word per aand gespeel; twee spanne speel 15 beurte; dan gaan die volgende twee spanne op vir hul eerste 15 beurte. Dit is basies 60 beurte van vinnige en goeie krieket oor vier ure – dit is beslis nie vervelig nie.”

Gevra waarna ouers en toeskouers kan uitsien, het Anton bygevoeg, “Gesonde, goeie, aanskoulike krieket op laerskoolvlak. Ek moet my elke jaar herinner dat dit wel laerskoolspelers is wat speel en nie volwasse provinsiale spelers nie – dit is hoe aanskoulik dit is. En dan is daar natuurlik die lekker kuier, en die rukkie wat kinders van die televisie en rekenaar kan wegbreek.

“Die reeks skep verder geleenthede vir laerskoolspelers – seuns en meisies – om te ontwikkel. Dit bring verskeie skole se afrigters, spelers en dié se ouers en skeidsregters byeen om krieket te speel en hegte bande word smee.”

Dit is duidelik dat Pro 20 meer gewild is onder die jonger spelers.
Dit is duidelik dat Pro 20 meer gewild is onder die jonger spelers.

 

Algemene reëls vir die reeks:

• Wedstryde word gespeel met 15 beurte per span.

• Punte:

Vir die uitslag: 4 vir ‘n wen; 2 vir gelykop; 0 vir verloor

Vir kolf: elke 10 lopies 1 punt

Vir boul: elke paaltjie 1 punt

Uitspeelrondtes en eindstryde: Wenner van elke Groep na trofee-uitspeelrondte en naaswenners na plaat-uitspeelrondtes. Hoogste punte teen vierde hoogste met tweede hoogste teen derde hoogste vir halfeindstryde.

• Twee wedstryde word per dag gespeel. Die eerste beurt van albei wedstryde word voltooi alvorens daar met die tweede beurt begin word. Geen pouse tussen beurte nie

• Maksimum van drie beurte per bouler en ‘n minimum van drie beurte draai. Vir elke beurt van draai nie geboul nie: 20 lopies straf

• Maksimum van agt balle per beurt

• Aanloop van boulers word beperk tot agt meter

• Veldwerkspanne kry 55 minute om hul 15 beurte te voltooi. Indien meer tyd as die toegelate 55 minute gebruik word, word die oortreders met 10 lopies per beurt na die 55 minute, gestraf. Die 15 beurte moet nog steeds geboul word

• Gedurende die eerste vyf beurte moet daar ses spelers binne die 15m-radiusmerke veldwerk doen. Hulle is die bouler, paaltjiewagter en vier veldwerkers

• Geen o.14- of ouer spelers mag aan die toernooi deelneem nie, dus niemand wat in 2000 en later gebore is nie

• Daar word gespeel met ‘n 135g pienk bal. Balle moet na elke wedstryd ingegee word om voorsiening te maak vir balle wat dalk later weggeslaan word

• Klere van spelers moet donker gekleurd wees. Geen wit klere nie. Sweetpakke en rugbytruie is aanvaarbaar. Eenvormigheid is belangrik

• Geen spykerskoene nie. Daar word op ‘n astro-blad gespeel

• ‘n Foutbal op die voorvoet (oortrap) wat afgelewer word, word as volg gestraf: ‘n vrybal deur dieselfde bouler na dieselfde kolwer. Kolwer kan nie been voor paaltjie (BVP), gevang of geboul word nie; alleenlik gestonk of uitgeloop. ‘n Staflopie: EEN, by die ekstras. Indien die daaropvolgende bal ook ‘n foutbal is, word sewe straflopies aangeteken; met geen vrybal daarna. Geen ander fout deur ‘n bouler word op dié manier gestraf nie. Die skeidsregter moet ook die korrekte teken aan die tellinghouers en spelers deurgee

• In die geval van ‘n gelykopuitslag by die semifinale en finale sal ‘n Superbeurt gespeel word. Drie kolwers, ses wettige balle; die span met die meeste lopies wen

• Wedstryde begin stiptelik om 4.30nm. Spanne moet asseblief 30 minute voor die aanvang van die wedstryd by die veld wees

• Skole voorsien skeidsregters vir die ander wedstryd op die dieselfde dag as hul eie of soos deur die koördineerder bepaal. Skole sal betyds ingelig word

• Vir die semi’s en finale word skeidsregters aangewys

• Skole voorsien hul eie bekwame tellinghouers

• Spanne is verantwoordelik vir hul eie verversings

• Ouers mag gasbraaiers gebruik

• Geen alkoholiese drank mag toegelaat word nie

• Daar sal ‘n snoepie wees

Vir verder navrae e-pos vir Anton Enslin by enslinae@mweb.co.za

Related Articles

 
Back to top button