EntertainmentLifestyle

HemelBesem pen titellied

Die titellied vir die baanbrekersfilm, 'Noem My Skollie', is pas vrygestel.

DIE titellied vir die baanbrekersfilm, ‘Noem My Skollie’, is pas vrygestel.

Die “Beatmaker, STUWI W” is verantwoordelik vir die musiek van die liedjie, terwyl lirieke en uitvoering daarvan deur die baie bekende Afrikaanse hip-hop kunstenaar, HemelBesem, gedoen is.

HemelBesem het reeds as onafhanklike vervaardiger nie minder as vyf Afrikaanse hip-hop albums vrygestel nie insluitend ‘Dink ’n Bietjie’, ‘Auto-Bio-Grafie’, ‘Die Worcester Standard’, ‘Evil Is Maklik’ en die mees onlangse ‘Uwilisimakliki’.

Hy het al oor die jare met talle Afrikaanse hip-hop en rock kunstenaars saamgewerk en is trots om as ’n “edutainer” bekend te staan. Hy is baie betrokke by gemeenskapsprojekte en tree gereeld by skole op. HemelBesem is ook betrokke by die fetale alkoholsindroom bewusmakingprojekte en is ook ’n ambassadeur vir Kullid – ’n organisasie wat bemagtiging van minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika nastreef.

Hy beskryf sy betrokkenheid by ‘Noem My Skollie’ en die skryf van die liedjie as een van die grootste hoogtepunte in sy loopbaan. “Die proses om die liedjie te skryf was langer as gewoonlik omdat dit moeilik was om die era met hip-hop te kombineer, maar na die eerste probeerslag het dit perfekte sin begin maak. Die liedjie is die storie van die karakter AB, John W. Fredericks en myself asook die uitdagings van die demografie wat ons verteenwoordig. Ek hoop mense sal deur die metafore en vergelykings kan luister en die unieke ‘struggle’ van kreatiwiteit kan sien waarvandaan ek kom. Ek glo die film gaan mense se harte en gedagtes aanraak en dat my liedjie dieselfde sal doen,” het HemelBesem gesê.

Die vervaardigers van die fliek het HemelBesem gevra om ’n liedjie vir die einde van die film te skep wat ’n tipe van ’n kenmerk vir die fliek sal word en sal kan inskakel by Kyle Shepherd se musiek in die film wat die 1960’s periode afspeel. HemelBesem speel ook die rol van “Ghost”, die leier van die 26’s bende in die fliek.

Die film wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W. Fredericks.

Die titel van die film sinspeel op die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en is daar moontlik ’n prys daaraan gekoppel.

Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Die fliek première by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai op 24 Augustus om 20:00.

*Media vrystelling verskaf deur Starburst Promotions.

*Foto deur Lindsey Appolis verskaf.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Southern Courier in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button