KYK: Bok Radio-span ft Loki Rothman reik ‘n Kersfeeslied uit
Die span by Bok Radio het besluit om gedurende Desember 2019 vir Loki Rothman in te span om ’n Kerslied te skryf wat hul gesindheid teenoor hul gemeenskap uitbeeld.
Kersfees is om die draai en na alles wat die afgelope jaar gebeur het, kan ons tog iets vind om voor dankbaar te wees.
Hierdie is ’n tyd om mekaar te ondersteun, en die musiekvideo beloof om by alle ouderdomme aanklank te vind.
Die Bok Radio-span se personeel is bekend daarvoor dat hulle nie net kan uitsaai nie, maar ook kan sing en toneel speel. Met meer as 100 uitverkoopte Tydloos produksies op hulle kerfstok is dit geen verrassing dat hierdie talentvolle groep hul eie liedjie opgeneem en vrygestel het nie.
Gedurende Desember 2019 is Loki Rothman ingespan om ’n lied namens Bok Radio, ’n gemeenskapsradiostasie in die Kaap, te skryf.
Die lirieke is ’n toonbeeld van die Bokspan se gesindheid teenoor die gemeenskap wat hulle bedien. Die boodskap wat uitgedra word is dankbaarheid en hierdie liedjie, Kerstyd, word nou vir die eerste keer aan radiostasies regoor die land uitgereik.
Van die omroepers tot die admin personeel hou hulself akteurs in die musiekvideo waar ’n tehuis vir bejaardes besoek is.
Volgens Wimpie van der Sandt, hoof uitvoerende beampte, was die doel van die liedjie om mense te laat besef daar is altyd iets om voor dankbaar te wees, veral oor Kerstyd.
Bok Radio is van plan om teen Desember vanjaar nog ’n liedjie vry te stel en dit beloof om nóg ’n treffer te wees.
Hou gerus Bok Radio se sosiale media dop.
Kyk die video hier



