Nog smoorverlief na 60 jaar

Verdraagsaamheid is baie belangrik in 'n huwelik.

Hannes (86) en Dollie (79) de Ru het op 6 Mei hulle 60ste huweliksherdenking gevier.

En vir Hannes bly Dollie nog die mooiste vrou wat hy nog gesien het.

“Dit is 60 jaar van liefde en genade,” het Dollie gesê.

Die REKORD het by die egpaar by hulle huis in New Redruth gaan kuier om meer oor hulle liefdesverhaal uit te vind.

Die begin van hulle storie
‘n Troufoto van Hannes en Dollie de Ru.

Hulle storie begin reeds toe Dollie slegs 12 en Hannes 18 was. Dollie het seker gemaak dat sy in die voortuin gespeel het wanneer Hannes op sy fiets verby haar ouerhuis in Clintonweg gery het. Hierdie was sy daaglikse roete op pad werk toe.

“Ek het altyd vir hom geskree ‘Hallo oupa’ terwyl ek buite in die modder gespeel het.”

Jare later het die twee mekaar weer by die Volkspelegroep raakgeloop en toe was die koeël deur die kerk. Hulle is op 6 Mei in 1961 in die Hervormde Kerk in Tweedelaan getroud.

“Ons onthaal was by die Eeufees Kerk, nou bekend as Ligstad, gehou. Dit was ‘n groot troue,” het hulle gesê.

Die de Ru’s het drie kinders, twee kleinkinders, twee agterkleinkinders en twee vierpotiges.

Onmeetbare liefde
Hannes de Ru besig om te praat oor hulle troudag.

“Die mooiste eienskap van Dollie is dat sy alles voluit en met baie liefde doen. Sy is my regterhand en beste vriend,” het Hannes gesê.

Dollie het Hannes as ‘n baie liefdevolle versorger beskryf. “Hy het sy gesin nog altyd eerste gesit en mooi na ons almal gekyk.”

Hulle gunsteling herinnering saam is die tyd toe hulle volkspele gedoen het.

“Veral toe ons Volkspelegroep by Meredale gaan swem het,” het Hannes laggend vertel.

Hulle resep vir ‘n gelukkige en lang huwelik is dat hulle nog altyd verdraagsaam was met mekaar.

“Ons sal nooit met ‘n wrok gaan slaap nie,” het hulle gesê.

Hulle raad vir jong getroudes is om mekaar te respekteer en mekaar te dra en verdra en om die Here in jou huis en verhouding te hê.

Bietjie geskiedenis
Dollie en Hannes de Ru het op 6 Mei hulle 60ste huweliksherdenking gevier.

Dollie woon al haar hele lewe lank in Alberton en Hannes het in 1946 saam met sy gesin na Alberton verhuis.

Hy het vertel dat hy die eerste standerd vyf en standerd ses leerder in Alberton Junior Hoërskool was. Hy het ook tot op die ouderdom van 85 jaar as ‘n passer en draaier gewerk en hy is die lidmaat wat al die langste by die NG Kerk Wes betrokke is.

Hannes is lief vir tuinwerk en het al die plante by hulle huis self geplant terwyl Dollie lief is vir bak en brou.

60ste huweliksherdenking

Die egpaar se kinders het hulle op 2 Mei uitgevat vir ete na ‘n restuarant in Centurion en saam met hulle die dag spandeer.

“Ons sal sukkel om my ouers se rekord van 60 jaar te verbeter. Ons is geseënd om nog albei ons ouers te kan hê. Goeie gesondheid kan geld nie koop nie,” het hulle dogter Amanda namens die familie gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Southern Courier in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button