Vir Vic Verster (65) van Dersley was Woensdag ‘n dag om op trots te wees toe hy sy 250ste eenheid bloed skenk by die bloedbank in die Avenues Inkopiesentrum.
“Ek voel geëerd om gesond te wees en om ander mense te kan help met my skenking,” sê Vic.
Volgens Suster Juliana Visser van die bloedbank kan elke individu elke 56 dae bloed skenk wat beteken jy kan tot ses keer per jaar skenk.
Die skokkende feit is dat daar minder as 1% van die bevolking bloed skenk.
“Een persoon kan drie mense se lewens red,” sê Sr Juliana.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloed Dienste (SANBD) gee ‘n geskenk aan elke individu wat 25 eenhede bloed skenk sowel as ‘n medalje vir diegene wat ‘n spesiale mylpaal behaal het.
Vic ontvang dan ook aan die einde van die jaar, met nog ander skenkers, ‘n medalje as verering vir sy 250ste skenking by ‘n spesiale ete wat deur die SANBD aangebied word.
Vic sê hy sal aanhou bloed skenk vir solank as wat hy moontlik kan.



