Groot stank te erg vir Geduld
Die reuk kom van die gemors wat in 'n opening agter hulle huise gegooi word.
Die vrot reuk dra jou kos van jou bord af.
Dit is wat die vroue van Geduld sê wat siek en sat is vir die vrot reuk by hul huise.
Dina de Jongh, Sanet du Preez en Anita Vorster, inwoners van Tweedelaan, Geduld sê die reuk kom van die gemors wat in ‘n opening agter hulle huise gegooi word.
Die opening, slegs ‘n paar meter diep, is tussen hulle en hul bure se agterste buitenmure.
Dit was vir jare deur die munisipaliteit skoongehou, maar die afgelope tyd raak hierdie plek net voller en voller met vrot gemors.
Wat die situasie erger maak is dat die hekke tot die ingang tot die opening, geleë in Vierdestraat, nie gesluit word nie en enigeen kan hulle gemors daarin gooi.
Die vroue sê hulle kan nie die vuilgoed sien nie omdat dit agter hulle agterste muur is, maar die reuk van wat ookal daar gegooi word is baie erg.
Dit raak ondraaglik as die reënseisoen elke jaar begin en word elke jaar meer intens.
Hierdie vrot reuk hang orals rond en is veral erg wanneer hulle vir hul gesinne elke dag opskep om hule maaltye te eet.
Die vlieë wat agter die vrot reuk daar rondvlieg sak op hulle toe as die vroue waag om met kos te werk.
Die vroue sê daar is as gevolg van die gemors groot rotte, muise en spinnekoppe wat hulle in hul huise teister.
“Wat van ons kinders wat in hierdie omgewing grootword?” is hulle bekommernis.
*Die Addie het Ekurhuleni Metro oor die toestand van die vuilgoed in die opening tussen die huise genader, maar ten tye van ons ter perse gaan het ons nog nie kommentaar van hulle ontvang nie.




