Bossie beskerm verwagtende pofadder
Bossie Bosman (56) se droom om 'n pofadder te vang het Dinsdagmiddag waar geword.
Die personeel by die verpleegsters tehuis van die Verre-Oosrand Hospitaal het Bossie se hulp ingeroep.
Hy het aanvanklik gedink dit was ‘n rinkals, toe hy kaalhande tussen die bosse na die slang soek, totdat hy ‘n video gesien het, wat deur Thando Kubeka die hospitaal se omgewingsgesondheidspraktisyn, geneem is.
Watch the video
Bossie het opgewonde geraak, maar het ook besluit om die hulp van ‘n mede slangvanger, Martin Swanepoel, in te roep.
Dié twee het die bos versigtig begin oopsny, tot die slang sigbaar was.
Hul opgewondenheid het gepaard gegaan met absolute veiligheid met die hantering van die dragtige wyfie.
Met die nodige toerusting het hulle haar gevang en in ‘n houer geplaas wat Bossie spesiaal vir die slange gemaak het.
Bossie, wat vir die afgelope 30 jaar slange vang, erken dat hierdie vangs ‘n besondere een was.
“Dit was ‘n ongelooflike groot oomblik om die pofadder te vang en te ontdek dat sy dragtig is,” spog hy.
Sy behoort binnekort 20 tot 40 kleintjies te kry, wat tussen 15 tot 20cm lank sal wees en net soos hul ma sal lyk.
Pofadders se lang slagtande is gewoonlik terug gevou in die mond tot wanneer hulle prooi vang.
Indien hulle byt is die gif hoofsaaklik sel-vernietigend en vernietig die bloedvate en weefsel.

Inligting
Pofadders kom wyd verspreid voor, maar verkies grasvelde en ruigtes vir beskutting, om hulself goed te kamoefleer.
Hul rugkant wissel baie, van helder tot dofgeel, ligbruin of grys, met duidelike swart chevrons wat agtertoe wys, met donker bande op die stert.
Die penskant is geelwit tot grys, met donker vlekke.
Hulle lê gewoonlik doodstil wanneer hulle genader word en as hulle bedreig voel.




