ATKV Borg ‘n Sak-projek skenk aan drie hoërskole
As deel van die ATKV Springs-tak se Borg ’n Sak-projek, was verskeie organisasies aan boord om hulle by te staan om sodoende hierdie projek moontlik te maak.
Dié lede het Dinsdag altesaam 160 sakke aan verteenwoordigers van drie plaaslike hoërskole oorhandig tydens ’n seremonie wat by Malan Nel Dienssentrum gehou is.
Die 120 meisiessakke bevat sanitêre doekies, sjampoe, waslap, sneesdoekies, oorstokkies, seep, skeermes, tandepasta en ’n tandeborsel.
Lees: Plaaslike ATKV-tak wil tieners bystaan
Die 40 seunssakke sluit ’n skeermes, seep, tandeborsel, tandepasta, oorstokkies en sjampoe in.
Magdalie Grobler, die projekleier, vertel hulle het Meimaand met die projek begin nadat ’n boemelaar haar in die straat voorgekeer het en meegedeel het dat hy sleg voel, want hy kan nie eers sy dogter help met basiese sanitêre ware nie.
“Ons het besluit om die meisies te help sodat hulle nie baie werk verloor omdat hulle tuis moet bly gedurende dié tyd van die maand nie,” sê sy.
Lees: Skole toneelspel by ATKV
Hulle het Hoërskool Dr Johan Jurgens, Springs Girls’ High School en Hoërskool Hugenote gekontak wat altesaam 160 behoeftige leerlinge in die onderskeie skole uitgewys het.
Met die hulp van die gemeenskap het hulle binne ’n bestek van vyf maande genoeg donasies ingesamel.
Die meeste van die produkte vir die sakke is deur die sustersvereniging van die Hervormde Kerk Springs-Oos bymekaar gemaak.
Arms of Angels, ’n nie-winsgewende organisasie, het ook produkte geskenk vir die projek.
Die sjampoe is deur ’n Springs haarsalon geskenk.
“Die finansiële bydraes is gebruik om nog items te koop,” sê Magdalie.
Deur die oorweldigende reaksie van die gemeenskap, is dit duidelik dat baie mense besef sanitêre ware is ’n absolute noodsaaklikheid.
Die Springs-tak het besluit om hierdie projek ’n jaarlikse instelling te maak.
Enige instansie of persoon wat betrokke wil raak kan Magdalie kontak by 076 096 0365.



