Esmerélda van Wyk se Boer Soek ’n Vrou reis het haar wildste verwagtinge oortref toe sy liefde by ’n ander boer vind.
Die 29-jarige kliëntebestuurder en bemarker van Edelweiss het vroeg in Januarie vir die eerste keer op die kassie verskyn toe sy vir boer Nelis ingeskryf het.
Alhoewel hy haar op die einde van die program gekies het, het die paartjie se liefdesbootjie vroeg in Desember reeds gesink.
“Tydens die verfilmingsproses dink mens nie altyd helder oor die realiteit nie en mens voel nie noodwendig dieselfde oor mekaar nie,” het sy gesê.
Esmerélda het aan die Advertiser vertel dat die harde werk van die verhouding eers begin wanneer die verfilming verby is.
“Alhoewel ek en Nelis nie meer saam is nie, is daar geen kwade gevoelens tussen ons nie.”
Dit was glo vir haar moeilik om die program te kyk omdat hulle verhouding reeds iets van die verlede was teen die tyd wat dit op televisie uitgesaai was.
Also read: Sharoney se nuutste musiekvideo bekendgestel
Vroeg in Maart het die boere en hul dames hul eie reünie in Clarens gehou.
“Ek het besluit om steeds te gaan omdat ek ook goeie vriende met al die boere en hul dames geword het.”
Dit is waar boer Johan en Esmerélda se paaie weer gekruis het.
Johan het tydens hul naweek in Clarens sy gevoelens aan haar duidelik gemaak.
“Ek was stom geslaan juis omdat ons sulke goeie vriende was,” het sy gesê.
Voor sy haarself kon kry het sy die agtereenvolgende naweek vir hom op sy plaas gaan kuier waar hy haar toe gevra het om sy meisie te wees.
“Dit gaan baie goed tussen ons. Ons weet presies waar ons met mekaar staan en ons bring beslis die mooi in mekaar uit.”
Alhoewel Esmerélda dit duidelik wil maak dat daar niks aan die gang tussen hulle was tydens die verfilming nie, beweer sy dat sy steeds uit die veld geslaan is oor hoe dinge uitgedraai het.
“Ek is nie spyt dat ek nie van die begin af vir Johan ingeskryf het nie, ek glo alles werk uit soos dit moet.”
Alhoewel Johan en Esmerélda se verhouding nog nuut is, beweer sy dat hy haar baie spesiaal laat voel en dat dit vir haar lekker is om waardeer te word.
“Hoe ek gedink het liefde moet wees, kan nie eers vergelyk word met dit wat ek gekry het nie.”
Follow us on our social media platforms:





