Laerskool Jan van Riebeeck se hoof groet
Meneer Herman Flemming lê aan die einde van die tweede kwartaal die tuig neer.
Herman Flemming, 65-jarige skoolhoof van die Laerskool Jan van Riebeeck, groet eersdaags die skool, waar hy vir baie jare diep spore getrap het.
Dié bekende skoolhoof was vir die grootse deel van sy onderwysloopbaan in Springs werksaam.
Fleming gaan aan die einde van die tweede kwartaal sy loopbaan by Laerskool Jan van Riebeeck afsluit nadat hy vroeg in Mei die verpligte aftree-ouderdom bereik het.
Hy het in 2005 by die skool aangesluit as skoolhoof, waar hy vir die afgelope 17 jaar ‘n groot impak op duisende leerders, ouers en mede-kolegas gehad het.
“Ek glo dat ek menige leerder oor die jare toegerus het met ‘n goeie grondslag,” het hy gesê.
Hy het in 1976 aan die Noord-Wes Universiteit van Potchefstroom Christelike Hoër onderwys studeer.
Sy onderwysloopbaan het by Potchefstroom Tegnies begin waarna hy ook verbonde was aan skole soos Hoërskool John Vorster en HTS Springs voordat hy nes geskop het by Laerskool Jan van Riebeeck.
Volgens Flemming is daar verskeie hoogtepunte in sy loopbaan.
Also read: Laerskool Jan van Riebeeck hokkiespanne presteer.
“Dit was vir my ‘n voorreg om by meer as een skool my stempel af te druk.”
Hiervan getuig die vele memorabilia in sy kantoor. Dit is ‘n kombinasie van sy eie aankope en geskenke van oud-leerders en vriende oor die jare, wat hom baie na aan die hart lê.
Hy en sy vrou, Marlene, is 35 jaar getroud en woon die afgelope 17 jaar in Rowhill.
Sy passie en liefde vir sy medemens blyk uit die vele legende-aande wat al vir 17 jaar aangebied word.
Opbrengste van hierdie geleenthede gaan aan oud-Springbokke en boksers – om hulle finansieel te ondersteun.
“Laerskool Jan van Riebeeck is ‘n dinamiese skool waar die ouergemeenskap, onderwysers en leerders optimaal saamwerk.
“Ek, wat as mens glo in dinamiek, het perfek in hierdie rol gepas.”
Flemming voeg by dat hy die kinders en die sport die meeste gaan mis.
“Ek het ‘n groot passie en liefde vir kinders. Ek is al van kinds af ‘n sportman en het vir baie jare, genot geput uit skolesport. Ek glo nie in die woord aftrede nie, dus sien ek dit as ’n nuwe hoofstuk in my lewe.
“Ek gaan myself besig hou met allerlei interessante dinge.”
Hy beplan ook om ‘n skuif na KwaZulu-Natal te maak waar hy wil aftree en meer tyd saam met sy gesin wil deurbring.
Follow us on our social media platforms:





