Die Hoërskool Hugenote het rede om te vier
Die Hoërskool Hugenote is die top skool in Oos-Gauteng.
Die Hoërskool Hugenote het vanjaar behoorlik uitgeblink by die Gauteng-Oos Distriktoekennings waar erkenning gegee is aan skole, onderwysers en matrikulante wat gedurende 2022 uitstekend presteer het.
Nie net is Hugenote vereer as die top skool in Oos-Gauteng met ‘n 100% slaagsyfer asook die beste prestasie in die senior sertifikaateksamen nie, maar een van hul 2022 matrikulante is as die algehele nommer een presteerder in Oos-Gauteng aangewys.
Hierdie eer het Caro du Toit te beurt geval en sy is ook aangewys as die beste kandidaat in Afrikaans, Engels, rekenaartoepassingstegnologie en religiestudies.
Die onderwysers van die skool is ook vir hul toewyding vereer.
READ MORE: Laerskool Selection Park shows off at 2023 Interschools
Die Hoërskool Hugenote was nommer een in die departemente van Engels, dramatiese kuns, ingenieursgrafika en ontwerp, wiskundige geletterdheid, Afrikaans, verbruikerstudies en rekenaartoepassingstegnologie.
Matrikulante van 2022 wat ook hul skool se naam hoog gehou het is Brent Whitcomb wat die algehele derde beste presteerder in Oos-Gauteng is en Carina van Zyl wat as vyfde beste aangewys is.
Elizma Jacobs is as die beste kandidaat in verbruikerstudies en Megan Marais is die beste kandidaat in ontwerp aangewys.
Bronwyn Booyse is as die beste ingenieursgrafika en ontwerp kandidaat in Oos-Gauteng aangewys.















