Jong aktriese binnekort op die kassie te sien
Dié negejarige is nie skaam vir 'n kamera nie.
‘n Jong inwoner van Casseldale sal binnekort te sien wees in ‘n kortfilm wat op televisie uitgesaai sal word.
Die negejarige Miamieke Willemstijn se droom het verlede jaar waar geword toe sy deelgeneem het aan oudisies vir die Speeltoneel Kortfilm Toer vir Talent.
Haar ma, Samantha Willemstijn is kort daarna per e-pos ingelig dat sy uit 1 100 inskrywings gekies is.
Miamieke moes daarna ‘n toneelspelkursus oor ’n tydperk van drie maande bywoon en voltooi.
In Maart vanjaar het sy vir twee dae opnames gedoen wat deur Isak Davel geregisseer is.
Die film sal teen Junie of Julie uitgesaai word op Via, kanaal 147.
“Intussen het sy haar sertifikaat ontvang en wag ons in groot opwinding om vir Miamieke op die kassie te sien,” het Samantha vertel.
Miamieke is al doenig in drama van Graad R af en het vir die eerste keer hierdie jaar aan ATKV-redenaars deelgeneem.
Haar droomrol is om ‘n karakter in 7de Laan te speel. Oor watter karakter is sy nie kieskeurig nie.
“Ek sal regtig enigiemand speel, solank ek dit net geniet,” het sy gesê.
Miamieke se toneelspel tegniek is om baie sterk te dramatiseer.
“Sy hou daarvan om met haar hele lyf te vertolk en doen, wat sy noem, `heavy acting’,” het haar ma verduidelik.
“Dit beteken nie verskriklike hartseer of ernstige toneelspel beoefen nie, maar eerder toneelspel wat baie energie verg.”
Om voor te berei vir ‘n rol lees Miamieke haar woorde oor en oor tot sy dit uit haar kop uit ken voor sy dramatisering byvoeg.
Sy wil graag mense laat lag of gelukkig voel met haar vertolkings, en hoop haar karakters het ‘n goeie impak op kykers.
Van drama hou sy baie, maar haar hoofrede vir haar keuse in toneelspel is omdat sy daarvan hou om te praat.
As sy nie haar droom as aktrise kan volhou nie sou sal sy graag vir Emirates Air of as ‘n onderwyseres wil werk.
“As ek ‘n onderwyser sou word is ek nie seker watter vakke ek sou aanbied nie maar my gunsteling vakke is natuurwetenskappe, Engels en skeppende kunste,” het sy vertel.
Miamieke wil nie eendag self films skryf of die regisseur daarvan wees nie, maar sal heel gelukkig wees as sy net kan toneelspeel.
As sy met die hele wêreld kon praat sou sy hulle graag van Jesus wou vertel.
Die jong sterretjie het baie hard gewerk om te kom waar sy is, en tydens haar drie maande kursus moes die negejarige stukke uit Macbeth en soortgelyke dramas memoriseer en vertolk.
Sy word ondersteun deur haar familie, borge en ABS Produksie wie die film vervaardig.





