Spog toneelstuk laat die trane rol
Regisseurs Kobus (42) en Wayne (37) van der Schyff-Smal bied al vir dekades ‘n platform vir jongmense waarop hulle hul entoesiasme vir teaterwerk kan uit leef.
Van pryse losslaan en toekennings wen kan jy Hugenote se toneelgroep niks vertel nie, maar om op ‘n groot skip op te tree was vir hulle ‘n geskiedkundige dag.
Die Hoërskool Hugenote se toneelgroep was vanaf 12 tot 17 Februarie op die MSC Splendida passasierskip wat in samewerking is met Lefra-produksies en die Oppiwater Kunstefees.
Hier het hulle die geleentheid gehad om deel van die skip se feesprogram te wees. Die toneelgroep het verlede jaar, tydens die Allegretto FAK Toneelfees se nasionale kompetisie, altesaam 146 ander produksies die stryd aangesê.
Hulle het deurgedring na die finaal wat in September by die Voortrekker Monument plaasgevind het, en dit is hier waar hulle as wenners uit die stryd getree het.

As deel van hierdie prys het hulle ‘n wisseltrofee, R10 000 in kontant en die geleentheid om een van hul top produksies op die groot skip ten toon te stel, gewen. Dié prysgeld het bygedra tot die tieners se skeepskaartjies en selfs as sakgeld vir hulle om aan boord te gebruik.
Regisseurs Kobus (42) en Wayne (37) van der Schyff-Smal bied al vir dekades ‘n platform vir jongmense waarop hulle hul entoesiasme vir teaterwerk kan uit leef.
Hulle het tydens die reis ook as voogde vir die kinders ingetree en beskou hulle as ‘n familie. Hugies se toneelgroep het Woensdag op Valentynsdag opgetree.
Die beweging van die boot was ‘n groot bekommernis, weens die invloed wat dit dalk op die toneel of dekor sou kon hê.

“Van ons dekorstukke is op wiele. Ons het al begin planne beraam oor hoe ons dit in plek sal moes hou sodat dit nie tydens die produksie rondskuif nie,” het Wayne vertel.
Gelukkig het die skip op Valentynsdag by die Portugese eilande aangedoen en daar vir die dag anker gegooi.
“Talle passasiers het verkies om op die boot agter te bly om na ons produksie te kyk. Die teater was amper vol,” het Kobus trots vertel.
Die toneelstuk Tussen die lang grasse, is alombekend as die hulle tranetrekker produksie. Kobus het die toneel verlede jaar in slegs een dag geskryf, min wetend wat die stuk nog alles gaan bereik.
“Ons het baie goeie terugvoering gekry. Van die vroue in die gehoor het gespot en gevra of dit nou nodig was om hulle so op Valentynsdag te laat huil?” het Wayne met ‘n glimlag vertel.
‘n Hoogtepunt vir die kinders was toe groot name soos Elzabé Zietsman, André Schwartz en André Lötter na afloop van die toneelstuk, hulle geluk gewens het en goeie terugvoering gegee het.
“Dit was ‘n groot eer vir ons en die kinders om voor welbekendes op te tree en hulle nog in trane ook te kry. Dit het die kinders net nog meer trots laat voel.”
Kobus vertel ook dat alles nie net seepglad verloop het nie, aangesien dat die hoofkarakter Nakita Meyer (18) wat verlede jaar matrikuleer het, nie op die skip kon gaan nie as gevolg van universiteit verpligtinge. Intussen moes Darrylin Scott (16) die hoofrol oorneem met slegs twee weke om voor te berei.
“Sy het uitstekend gedoen, die mense was absoluut mal oor haar,” het Kobus gesê.
Die groep het verlede week volstoom met repetisies begin en bied vanjaar twee dramas en een komedie aan.
Hugenote se toneelgroep is ook na drie feeste uitgenooi om vanjaar hul produksies daar ten toon te stel.





