Fiksheid is 90-jarige se geheim
Volgens Chris speel oefening 'n groot rol in mens se lewenskwalitiet.
Om 90 jaar oud te word is nie vir almal beskore nie maar Chris Liebenberg is selfs meer lewenslustig as mense ‘n fraksie van sy ouderdom.
Chris se geheim tot sy lewenslus is oefening.
“Ek kan nie beklemtoon hoe belangrik oefening vir ‘n mens is nie,” het hy vertel.
“Dit is waarom ek nog op my ouderdom sterk voel en aan die gang is.”
Chris woon al vir 20 jaar in Dal Fouche. Hy woon nog steeds alleen en geniet die geselskap van sy hondekind, Jackie. Alhoewel Jackie hom baie besig hou, geniet Chris dit om op sy eie te bly.
“
Niemand sê vir my wat om te doen nie. Ek kan televisie kyk net wanneer ek wil en vir solank as wat ek wil,” vertel hy laggend.
Chris se liefde vir sport en oefening het al jare gelede begin.
Hy het vir 12 jaar vir die Springs Rugby Klub uitgedraf en ook in 1953 as kaptein vir die o19 span opgetree. “My rugbydae was vreeslik lekker,” vertel hy trots.
“Ek het nie altyd omgegee of ons wen of verloor nie; ek het bloot gespeel omdat dit vir my lekker was.”
Chris is ook al vir twee dekades deel van die Springs Rolbal Klub waar hy ‘n lid is.
“Destyds het my broer eenkeer gevra dat ek saam met hom moet kom rolbal speel. Ek het sommer vir hom gesê hy is mal. Ek is mos nie ‘n ‘ou man’ nie,” vertel Chris laggend.
Al was hy vir die eerste paar maande steeds skepties, het die gogga hom gou genoeg gebyt en hy oefen nou twee keer per week by die klub.
Alhoewel hy tans die oudste lid van die klub is, laat hy nie toe dat sy ouderdom in sy pad staan om ander lede te laat les op sê nie.
“Ek geniet die geselskap, die kameraadskap en die vriende wat ek gemaak het. Ons kan soms vir ure net sit en gesels.”
Alhoewel Chris eers Sondag verjaar het, het hy Saterdag reeds sy 90ste verjaarsdag saam met sy geliefdes by die Springs Rolbal klub gevier.
“Ek voel regtig nie 90 nie. Ek het wel pyne en skete maar is ek nog baie aktief en aan die gang.”
Chris glo dat oefening ‘n baie belangrike rol in mens se lewensgehalte speel.
Hy oefen tans nog elke oggend met gewigte en op die dae wat hy nie rolbal speel nie, stap hy ongeveer 3km. “‘n
Mens kan nie stilsit nie, jy moet jou kop besig hou anders gaan jy baie vinnig agteruit gaan.”
Chris se verlede spreek van nostalgie en as hy daaroor praat is dit met ‘n glimlag op sy gesig.
Hy is die oudste van nege kinders en van die kroos het hy slegs twee sussies oor.
Hy was ook vir 57 jaar getroud maar het sy vrou Sally, in 2016 aan die dood afgestaan.
“Dit is vir my ‘n reuse mylpaal om 90 jaar oud te word en steeds jonk van gees te wees.
“Ek sê werklik elke dag vir die Here dankie dat ek gespaar is vir nog een dag.”




