Local newsNews

Skoonheidskompetisie sorg vir ‘n kaartjie na Amerika

Haar doelwit is om self die besigheid op die been te bring en suksesvol te bestuur.

Om aan ‘n skoonheidskompetisie deel te neem gaan oor baie meer as net ‘n mooi gesig; dit verg intelligensie, selfvertroue en ambisie.

Die beeldskone Gabriella D’Arrigo het elkeen van die eienskappe en nog meer. Gabriella het op 19 Maart aan die gewilde Mnr en Mej Skole skoonheidskompetisie deelgeneem, wat by Barnyard in Vereeniging plaasgevind het.

Alhoewel dit maar net haar tweede skoonheidskompetisie was, het sy nie toegelaat dat dit haar afskrik nie en het sy as tweede prinses weggestap.

“Dit het so goed gevoel om te wen,” vertel sy.

“Ek sou sê dat ek die beoordelaars se oog gevang het en die tweede prinses gewen het omdat ek 100% myself was,” vertel Gabriella.

Sy is ook gekies om aan die alombekende Pageant America deel te neem, wat later vanjaar in New York sal plaasvind.

Sy is vasbeslote om hier haar land se naam hoog te hou in die skoonheidsafdeling. “As ek iets doen, doen ek dit volheid,” vertel sy trots.

Gabriella reken dat sy nie veel sonder die ondersteuning van haar familie sou kon bereik nie. Sy het haar ouers, tweeling broer en ‘n suster op wie se ondersteuning sy kan staat maak.

Sy beweer ook dat haar broer, Francesco nog altyd haar grootste aanhanger was. Gabriella se familie is egter nie haar enigste ondersteuningsnetwerk nie maar sy beskou haar onderwysers ook as getroue ondersteuners.


Gabriella D’Arrigo en haar grootste ondersteuner, Francesco.

Sy is tans ‘n Graad 11 leerder aan die Anne-Zelle Mikro-Skool en praat met groot lof van haar onderwysers.

“Dit voel vir my of hulle my raak sien vir wie ek is en dat hulle regtig vir ‘n mens omgee,” het sy aan die Springs Advertiser vertel.

Gabriella erken dat sy aanvanklik vir die Mnr en Mej Skole se skoonheidskompetisie ingeskryf het omdat sy haar skool wou verteenwoordig.

Sy het verlede jaar aan haar heel eerste skoonheidskompetisie deelgeneem naamlik Mnr en Mej Volkie, waar sy ook met die wenkroon weggestap het. “Alhoewel dit nie iets is wat ek gewoonlik doen nie, het hierdie wen iets in my wakker gemaak en my laat smag na nog.”


Gabriella en haar grootste ondersteuner, Francesco D’Arrigo.

Die 17-jarige se ambisie oor skoonheid het geen perke nie. Sy is tans in die proses om ‘n skoonheidsbesigheid van die grond af te bring wat ondermeer haarprodukte verkoop. Haar doelwit is om self die besigheid op die been te bring en suksesvol te bestuur.

“Na skool wil ek graag rekeningkunde studeer sodat ek eendag sommer self my besigheid se boeke kan doen,” vertel sy laggend.

Die donkerkop beoog ook om oor ‘n paar jaar vir Mej Suid-Afrika in te skryf wanneer sy voel dat sy genoeg voorbereiding opgedoen het.

“Hoe meer skoonheidskompetisies ek doen, hoe meer belê ek in myself.”

Gabriella is al van die begin van hierdie jaar af deel van Younique Model Academy waar sy twee maal per week oefen om haar skoonheidsvaardighede op te skerp.

Iewers in haar besige skedule kry sy ook die tyd om haar dans passies by Nicole’s World of Dance uit te oefen en sy besoek ook graag die gymnasium.

“Die oefening is baie goed vir my geestesgesondheid. Na ‘n slegte dag kan ek by die gymnasium vir ‘n uur of twee net van alles vergeet.”

Vir haar is Pageant America ‘n goeie geleentheid om ervaring op te doen in die skoonheidsbedryf en moontlik ‘n platform vir haarself te bou.

Sy streef ook daarna ‘n rolmodel vir ander wil wees.

“Ek is van plan om net my beste te gee maar ek sit al my drome in die Here se hande.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button