Tiener wys haar staal met armdruk
Meri Prinsloo het in die afgelope jaar geleer om armdruk te bemeester.
Die 14-jarige Meri Prinsloo wat tans ‘n top armdrukker by die Supernova Klub is, woon saam met haar ma Melinda (34), pa Riaan (42) en jonger boetie Ettiene (8) in Strubenvale.
Die Springs Advertiser het haar uitgevra oor die buitengewone sportsoort wat sy beoefen.
• Waar kom jou liefde vir armdruk vandaan?
Toe ek verlede jaar vir die eerste keer daarvan gehoor het was ek dadelik geïnteresseerd en na net een aand se oefening, het ek net geweet dat dit iets is wat ek baie graag sal wil doen.
• Wat geniet jy die meeste van die sport?
Ek geniet dat almal daar is vir mekaar en hoe ons mekaar help om te verbeter.
• Watter toekennings het jy al gewen?
In die begin amper niks, maar ek het stadig maar seker begin beter word. Ek het ‘n paar kleiner kompetisies gewen en dan groot kompetisies soos die Beast of the East by die Arnold Classic en ek het die South Africa Arm Wrestling Classic ook gewen.
• Aan hoeveel kompetisies het jy al deelgeneem en watter een staan vir jou uit?
Ek het al aan baie kompetisies deelgeneem maar die All African Games wat onlangs in Ghana plaasgevind het, staan die meeste vir my uit omdat dit die eerste keer was wat ek gevlieg het en uit die land was.
• Hoe gereeld oefen jy?
Ek oefen tans elke Sondag.
• Watter vak op skool is vir jou die lekkerste en hoekom?
Ek sou sê Wiskunde. Dit is net so lekker om somme te kry en te sien hoe al die komplekse stappe werk om op die einde die antwoord te kry. Die beste deel is as jy die som self reggekry het, sonder enige hulp.
• Het jy al besluit watter beroep jy eendag wil volg?
Nee, ek het nog nie besluit nie.
• Dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem, hoekom of hoekom nie?
Ja, want hierdie generasie is te behep met tegnologie en ek dink die kinders kom nie genoeg uit om die wêreld te sien nie. As hulle meer uitkom sal meer kinders besef dat hulle goed in sport is of sommige sporte dalk geniet.
• Beskryf jouself in vyf woorde
Ek sou myself beskryf as slim, lojaal, sterk, simpatiek en stil.



