AfriForum wys nuwe bestuurspan aan
Die AfriForum-tak in Springs het onlangs 'n nuwe bestuurspan aangekondig.
Die AfriForum-tak in Springs het onlangs sy algemene jaarvergadering gehou en die tak se suksesse oor die afgelope jaar is uiteengesit, en ‘n nuwe bestuurspan vir die komende jaar is aangewys.
Die nuutverkose bestuur bestaan uit Petro Kirton (voorsitter), Roos Trindade (sekretaresse), Ronel Greyling (tesourier) en Alwyn Kirton (leier van die buurtwag).
“Hierdie bestuurspan is gekies om die tak tot nuwe hoogtes te neem en voort te bou op die sterk fondasie wat deur hul voorgangers gelê is,” het Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand gesê.
“Die tak kan uitsien na ’n blink toekoms onder hul leiding.”
Ferreira voeg by dat die nuwe bestuurspan gereed is om elke uitdaging aan te pak.
“Die bestuurslede is ywerig om ’n verskil te maak en ons sien uit na die positiewe impak wat hulle op die gemeenskap sal hê.
“Ons wil ook die voormalige bestuurspan bedank vir hul jarelange diens en toewyding aan AfriForum en die groter gemeenskap van Springs.
“Sommige van hierdie lede het tot 14 jaar AfriForum se Springs-tak bedien en hul harde werk en onbaatsugtige bydraes word opreg waardeer,” het Ferreira gesê.




