27 Comrades wedlope nie genoeg vir Karin nie
Haar amptelike voorbereiding vir volgende jaar se Comrades sal in Januarie begin.
Die langasem Karin Smith skrik nie vir vêr afstande nie en beplan om die Comrades Maraton nog telkemale aan te pak.
Hierdie 65-jarige atleet het op 9 Junie haar 27ste Comrades in 11:07 voltooi.
Sy het egter nie geweet of sy die afstand suksesvol sou kon aflê, na haar twee onlangse skouer operasies nie, maar dit het haar hoegenaamd nie terug gehou nie.
“Gesondheid is kosbaar en ek is dankbaar dat ek die gesondheid het om te kan hardloop.”
Karin, wat in Petersfield Uitbreiding woon sê dit lekker is om vinnige tye te hardloop maar om bloot net die Comrades te voltooi, in haar oë, ‘n reuse prestasie is .
Toe daar vir Karin gevra word wat haar laagtepunt van vanjaar se maraton was, het sy geantwoord daar was geen laagtepunte was nie.
Sy meen sy het al verskeie kere die marathon gehardloop en weet dat sy moet vasbyt en volhard.
Haar hoogtepunt was egter dat haar jongste seun Janis (29), sy eerste Comrades voltooi het.
“Ons het saam by die begin gestaan met die elektries-gelaaide atmosfeer van duisende atlete rondom ons en het die ‘magic’ saam beleef.”
Karin is egter bevoorreg genoeg om in die verlede die Comrades al saam met haar man David (67), seun Jacques (41) en dogter Fransli (40) aan te pak.
“Tussen ons en die vyf kinders het ons gesin al byna oor die 40 Comrades medaljes,” spog sy.
Karin erken dat die Comrades jaarliks vir haar ‘n emosionele reis is.
“Tydens die reis bid ek baie, sing liedjies in my kop en gaan eintlik deur ‘n hele spektrum van emosies. Dit voel soos ‘n skoonmaakproses wat my dan weer lewensenergie gee om te werk,” het sy gesê.
Volgens haar is haar lyf na afloop van die maraton ‘n lekker tipe seer.
“Dan weet ek mos dat ek my bes gedoen het.”
Sy was ook ‘n gas by die alombekende Bruce Fordyce se partytjie wat die Maandag na die maraton plaasgevind het.
“Ek het die voorreg gehad om saam met Gerda Steyn te kuier en ek moet sê dit is nogal lekker om skouer te skuur met sulke kampioene.”
Karin vertel die atmosfeer by die Comrades is iets om te beleef.
“Mense gee om vir mekaar, ondersteun, praat moed in en motiveer. Dit wissel van sukkel met swaarkry, tot ekstase van vreugde vir mekaar se fisiese en emosionele oorwinning.”
Alhoewel sy reg deur die jaar hardloop, begin haar amptelike voorbereiding vir die volgende Comrades jaarliks in Januarie.
“Ek beplan elke jaar om die Comrades met nederigheid te hardloop, want ek weet dit is genade uit die Here se hand.”




