Ongeluk eis negejarige se lewe
Vrydagaand se motorongeluk het die Pottas gesin se lewe onherroeplik verander.
‘n Gesin van die dorp se lewe is Vrydagaand onherroepelik verander na ‘n tragiese ongeluk wat in Strubenvale plaasgevind het.
Die Pottas gesin was kort na 22:00 op pad huis toe vanaf ‘n kerkfunksie, toe hulle in ‘n ongeluk op die hoek van Townsendstraat en Nettletonlaan betrokke was.
Die motor waarin Lesinda Pottas (38) en haar drie dogters was, het vooruitgery met haar skoonouers en haar man, Willem kort agter hulle, elk in afsonderlike motors.
Volgens Renell (63), wat reg agter haar skoondogter en kleinkinders was, het die ongeluk baie vinnig gebeur.
“Ons het nog agter hulle gery toe ek skielik net die rooi remligte sien en die volgende oomblik was hulle weg,” vertel Renell.
Haar eerste instink was om na die kar toe te haas om te sien of haar skoondogter en kleinkinders beseer is.
Sy het by elke insittende omgegaan om te bepaal wat aangaan maar toe sy by haar negejarige kleinkind Khloé kom, kon sy onmiddellik sien dat die kind oorlede is.
“Ek het net haar oë toegemaak. Ek weet alles gebeur het ‘n doel maar ‘n mens sal nooit voorbereid wees vir so iets nie. Dit is so seer.”
Die paramedici en die GPF was blitsvinnig op die toneel. Die erg beskadigde blou Golf moes oopgesny word om die insittendes uit die kar te bevry.
In daardie stadium was die 12-jarige Leyla kritiek en ‘n helikopter is ontbied om haar spoedig by ‘n hospitaal te kry.
Haar hart het, volgens inligting, op die toneel gaan staan maar na ingryping van mediese personeel is sy gestabiliseer en is per helikopter na Netcare Albterton Hospitaal geneem.
Leyla het ernstige kopbeserings en was onder verdowing geplaas om die drukking in haar brein te verminder.
Lesinda en Mario-reé (15) is per ambulans na die Life Springs Parkland Hospitaal geneem waar beide in die intensiewe sorgeenheid onder verdowing geplaas was.
Mario-reé het erge gesigbeserings opgedoen en Sondag is daar rekonstruksie aan haar gesig gedoen.
Lesinda het haar borsbeen en linker arm gebreek. Sy het ook ‘n rugbesering opgedoen en moet binnekort ‘n operasie ondergaan.
Renell het die gemeenskap, skole en gemeentelede van Springs-Oos Hervormde kerk vir die ondersteuning en bystand, wat die gesin tot dusvêr ontvang het, bedank.
Sy het Khloé, met trane in haar oë, beskryf as ‘n omgeekind en dat sy vir haar vriendelikheid en lewenslus onthou sal word.
Khloé was ‘n Graad Vier leerder aan die laerskool Selection Park.