News

Einde van ’n era: Wedding World sluit na 36 jaar

Wedding World gaan binnekort sy deure finaal toemaak.

Vir byna vier dekades het jonk en oud Wedding World in Geduld se drumpel deurgetrap.

Dié bekende besigheid sluit egter eersdaags sy deure.

“Dit is ‘n moeilike besluit want Wedding World is ‘n legende in Springs en het duisende bruide en matrieks se drome waar gemaak,” lui die aankondiging op die winkel se Facebook bladsy.

Wedding World was een van die grootste trou- en partytjie winkels aan die Oos-Rand en het veral bekendgestaan vir hul moderne tot klassieke ontwerpe.

Die 82-jarige eienaar, Elize Launspach sê die sluiting volg na verskeie gesondheidsuitdagings wat sy in die gesig staar, wat haar verhoed om haar volle aandag aan die winkel te gee.

Elize, wat op ‘n jong ouderdom begin klere maak het en ‘n ontwerpskursus agter haar naam het, het in 1988 besluit om haar kuns en kreatiwiteit in werking te stel en het Wedding World vanaf niks opgebou.

Hierdie winkel is vir die eerste drie jaar vanaf ‘n gebou in Vierdelaan bestuur en het daarna na die hoek van Derdestraat en Derdelaan geskuif.

Die gebou waaruit Wedding World al die jare bestuur is, was aanvanklik vyf winkel geboue wat Elize aangekoop het en in een groot winkel omskep het.

Wat volgens Elize Wedding World uniek gemaak het is die groot verskeidenheid wat die winkel gebied het – van blomme, spyseniering, kostuums, rokke, pakke, konfetti, glase en selfs gaste geskenke.

Deur die jare is duisende van hulle groot reeks aandrokke, matriekafskeid rokke, sowel as strooimeisies-, blommemeisies- en ma van die bruid uitrustings gehuur of gekoop.

Die Springs Advertiser het deur die jare al verskeie kere oor Wedding World en die toekennings, wat die besigheid ontvang het, berig.

Elize se ontwerpe het al menige toekennings verower maar die een wat vandag nog vir haar uitstaan is die internasionale Carl Fabergé toekenning wat sy vanuit Frankryk ontvang het.

“Ek gaan alles van die plek mis; dit was my baba wat ek van niks af opgebou het en dit gaan baie swaar wees om dit toe te maak,” het Elize gesê.

Hoewel dit harde werk was om die besigheid vir 36 jaar suksesvol te bestuur, beskou Elize ‘n mooi bruid, in een van haar ontwerpe as haar hoogtepunte.

Een van Wedding World se werknemers, die 71-jarige Koekie Jordaan meen sy gaan dit mis om elke dag werk toe te gaan.

Koekie het vir byna 29 jaar by Wedding World gewerk en beskou die toemaak daarvan as die einde van ‘n era.
“Ek het vir baie jare baie gelukkig hier gewerk en dit is vir my hartseer dat ons deure moet sluit, ek gaan die plek baie beslis mis.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button