Van kaptein in die SAPD tot kunstenaar
Nadat Sonja vir 37 jaar lank in die polisie was, geniet sy dit om deesdae al haar aandag aan haar sang te gee.

Nadat Sonja Cilliers 37 jaar die gemeenskap as polisiebeampte gedien het, geniet sy dit om nou haar passie vir die kunste uit te leef.
Dié 56-jarige oud-polisie kaptein van Casseldale woon haar hele lewe lank al in Springs. Sy het in 1986 aan Hoërskool Dr Johan Jurgens matrikuleer en was aanvanklik van plan om onderwys te studeer.
Sy is in haar matriekjaar goedgekeur om onderwys aan die Universiteit van Potchefstroom te studeer met die oog om eendag Engels en lewensoriëntering aan te bied.
In dieselfde jaar het sy saam met ‘n vriendin na die Springs Polisiestasie gegaan, wat aansoek wou doen om deel van die polisiemag te raak.
“By die stasie het die adjudant offisier vir my gesê dat ek ook ‘n stel vorms moet invul. Ek het dadelik vasgeskop en vir hom laat verstaan dat ek onderwys gaan studeer. Hy het die vorms net in my hande gedruk en gesê dat my ouers dit moet teken sodra dit ingevul is,” het Sonja vertel.

Kort daarna het sy ‘n telefoon oproep gekry om te sê dat sy aanvaar is en eersdaags by die Suid-Afrikaanse Polisie Mag Opleidingskollege in Pretoria moet aanmeld. Sonder om twee keer daaroor te dink het sy haar tas gepak en ‘n ses maande opleidingskursus daar voltooi.
“As ek vandag terug dink, het alles presies uitgewerk soos dit moes, ek moes in die polisie beland en onderwys was nooit vir my bedoel nie.”
Kort nadat sy die opleiding voltooi het, het Sonja haar loopbaan by die Springs distrik kantore afgeskop en vinnig die range geklim.
Sy is gou na sersant bevorder en het in 1993 by die Springs Polisiestasie aangesluit en is ook in dieselfde jaar na adjudant offisier bevorder.
In 1996 het sy na Germiston Stasie geskuif waar sy 13 gelukkige jare gewerk het.
LEES OOK: Motorists beware of being caught in fraudulent tow truck scams
Sonja het vanaf 2007 tot 2009 by die Brakpan Polisiestasie gewerk en is toe bevorder na kaptein van die Katlehong Polisiestasie.
“As ek nou terug dink was my vyf jaar by Katlehong waarskynlik die beste tyd in my polisie loopbaan. Die respek en dissipline wat onder almal by die stasie was, was vir my iets besonders,” het sy gesê.
In 2015 is Sonja terug verplaas na Springs Polisiestasie toe waar sy haar laaste agt jaar voor haar aftrede deurgebring het.
Sy het in 2023 op vroeë pensioen gegaan en sê dat sy graag meer tyd saam met haar man wou deurbring.
“Ek het my loopbaan destyds in Springs begin en 37 jaar later weer hier afgesluit,” het Sonja gesê en voeg by dat sy ‘n wonderlike loopbaan gehad het wat haar oor die jare baie bevrediging gebied het.
Hoewel sy nou op pensioen is, sit sy nie ledig nie. Musiek en sang was nog altyd ‘n groot deel van haar lewe en vandag gee sy al haar aandag daaraan.

Sy is van klein dogtertjie tyd af al gemaklik op die verhoog met ‘n mikrofoon in die hand en was in 2004 een van die finaliste by die ATKV Liertoekennings en was ook al op die KKNK verhoog te sien.
Sonja en haar man, Leon is deel van die Christelike sanggroep, Tehilla. Sy was ook in 1985 een van die stigterlede van die groep. Tehilla Sanggroep bestaan uit 10 lede en tree glo regoor Suid-Afrika op. Sonja het in 2016 haar eerste enkelsnit vrygestel en is tans besig met verskeie oorspronklike treffers.
“Hoewel ek my sang vreeslik geniet sou ek dit nooit as my werk wou doen nie. Ek dink as mens jou stokperdjie voltyds doen, dan geniet jy dit nie meer so baie nie.”
Wanneer Sonja nie self sing nie, bied sy graag sanglesse vanuit haar tuisateljee aan.
“Dit is ‘n baie lekker gevoel as jou studente die kunswedstryd afdelings wen,” vertel sy trots.
Volgens haar lei sy mense na die Here deur haar musiek en sy sluit af met haar gunsteling leuse: “God sal niks op jou pad bring, wat jy nie kan hanteer nie.”