Local newsNews

Tiener droom van ‘n normale lewe met ‘n ordentlike prostese

'n Back-a-buddy-veldtog is gestig om by te dra tot RJ se prestese.

‘n Tienerseun van Sundra droom van ‘n normale lewe nadat hy met net een voet gebore is. Die 16-jarige Ronny Johannes Preston, of beter bekend as RJ, het vir jare met net een voet klaargekom, maar nou is ‘n ordentlike prostese sy grootste begeerte.

RJ was in die laerskool ‘n ywerige rugbyspeler en hoogspringer met ‘n vurige passie vir sport, maar weens die verskil in sy beenlengtes raai mediese personeel hom af om aan strawwe aktiwiteite deel te neem.

Hoewel RJ ‘n groot passie vir rugby het, sal hy egter nooit weer rugby kan speel nie. Hy het wel besluit om nie op sy liefde vir sport op te gee nie en beoefen deesdae gholf as sport.

In 2019 het RJ ‘n sintetiese voet ontvang wat die laaste ses jaar goeie ondersteuning vir hom gebied het. Dié voet het egter in die begin van die jaar gebreek weens oormatige slytasie.

Volgens sy ma, Madelein (45), sal ‘n ordentlike prostese nie net ‘n groot impak op sy lewensgehalte en selfbeeld hê nie, maar ook help om sy heup en rugraat in lyn te hou sodat dit nie skeef groei nie.

“My wens vir my kind is dat hy sy voet sal kry en weer kan straal. Dit maak my hartseer dat sy grootste begeerte ‘n voet is, en ons kan dit net nie vir hom gee nie,” het Madelein gesê.

RJ is tans ‘n Graad 11-leerder aan die WK du Plessis Skool, waar hy beskryf word as iemand wat ander se lewens ophelder, ondanks sy eie uitdagings.

Een van die onderwysers, Charmaine Botha (42), het ‘n Back-a-Buddy-veldtog gestig ter ondersteuning van sy ouers om fondse in te samel vir ‘n ordentlike prostese.

Sy het dit haar missie gemaak om RJ se droom te bewaarheid, asook sy lewenskwaliteit te verbeter. Charmaine, wat ook die sekretaresse van die Striders Klub is, gaan vanjaar haar agste Comrades Marathon aanpak, maar die keer met ‘n spesifieke doel voor oë. Sy wil graag vir RJ hardloop om fondse vir die prostese in te samel.

Vanjaar se marathon begin in Pietermaritzburg en eindig 90 km later in Durban, wat die wedloop meer afdraand georiënteerd maak. Volgens Charmaine is afdraende meer uitdagend omdat dit egter meer spanning op die atlete se knieë en tone plaas, maar sy beplan om op RJ se groter doel te fokus wanneer die pyn en moegheid haar inhaal.

“RJ gaan baie beslis my dryfkrag wees tydens die jaar se Comrades. Dit gaan my taak ook eintlik makliker maak, want dan is daar geen twyfelagtige gedagtes van opgee nie,” het Charmaine gesê en voeg by dat sy die eindstreep met RJ in haar gedagtes gaan oorsteek.

Enigeen wat wil bydra tot RJ se prostese kan vir Charmaine Botha by 082 061 9080 kontak.



LEES OOK: Residents warned about spike in opportunistic crimes

LEES OOK: Springs resident wins R1 000 voucher in word search competition

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button