Springs verseker dubbele oorwinning teen Nigel
Die eerstespan het ’n sterk vertoning gelewer en met 38-19 geseëvier, terwyl die tweedespan met 38-7 oorheers het.
Springs Rugbyklub het op 12 Julie, in die tweede ronde van die Valke Peregrine Liga teen Nigel Rugbyklub te staan gekom. Beide die eerste- en tweedespanne was in aksie en het met oorwinnings van die veld gestap.
Die eerstespan het met 38-19 geseëvier, en Mervin Gilbert is as speler van die wedstryd aangewys. Die drieë is gedruk deur Nicolaas van Wyk, André Stroiz, Rudolph Potgieter, Wiehan van der Merwe en Junaide Seedat, wat twee keer gaan druk het.
Seedat het ook vier van sy ses doelskoppe suksesvol deur die pale gestuur.
“Ons wil vir Nigel bedank vir die lekker wedstryde Saterdag,” het eerstespan-afrigter Bruce Borman gesê. “Nigel is nie ’n span om ligtelik op te neem nie. Hulle kom met intensie en dwing jou om hard te werk vir jou punte.”
Borman het verder gesê hulle is dankbaar vir die oorwinning, maar dat dit nie maklik was nie.
“Springs begin weer lekker momentum opbou. Daar is nog klein foutjies om aan te werk, maar ons is op die regte pad. Wat belangrik is, is die positiwiteit in die span. Die manne geniet hul rugby en die samewerking as ’n groep is uitstekend.”
“Ons vat dit week vir week en maak seker ons geniet elke oomblik,” het hy bygevoeg.
Die tweedespan het ook sterk vertoon en hul wedstryd met 38-7 gewen.
LEES OOK: WATCH: Mandela Day voxpop
LEES OOK: Epilepsy SA Springs branch calls for urgent donations



