Springs rolbalspelers ondersteun Heidlberg Rolbalklub se jaarlikse opedag
Die Nigel-span, onder leiding van Susan Kruger, het hul titel suksesvol verdedig tydens die Heidelberg Rolbalklub opedag.
HEIDELBERG – Die Heidelberg Rolbalklub opedag het op 16 Augustus ’n dubbele rede tot viering gebied, naamlik voortreflike spel op die bane én die klub se 40ste bestaansjaarviering.
Soos altyd is die spelers op die hande gedra met ’n warm verwelkoming, heerlike versnaperinge en ’n ete. Daar was altesaam 22 spanne, elk bestaande uit vier spelers, wat meegeding het om die pryse wat deur borge vir die dag verskaf is.
Spel het vroegoggend ’n aanvang geneem met spanne wat hul bes gegee het om bo uit te kom. Die span van Nigel, onder leiding van Susan Kruger, het die toernooi vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen.
Spanne van Springs, Frankfort, Delmas, Kempton Park, Alberton en Benoni het die dag ook ondersteun. Die president van die Heidelberg Rolbalklub, Elmarie Eygelaar, het almal bedank vir die suksesvolle dag, veral die nuwe spelers wat vir die eerste keer opgedaag het om die spel te geniet.
“Die dag se sukses kan toegeskryf word aan almal se deelname, asook elkeen wat hulle deel bygedra het,” het Eygelaar gesê.







