Sewesrugby-toernooi suksesvol ondanks gure weer
Ten spyte van die ongunstige weer het die dag vol aksie gebly en is Brakpan as algehele wenners aangewys.
Die gure weer wat verlede Saterdagmiddag kop uitgesteek het, het ‘n demper geplaas op die Panne Sewes-toernooi by die Brakpan Rugbyklub. Springs het ook aan die toernooi deelgeneem.
Om die veiligheid van spelers en ander betrokkenes te verseker, kon die uitspeelrondes nie voltooi word nie.
Die poelwedstryde is egter betyds afgehandel, en die uitslae is op grond daarvan bepaal. Uit die 12 deelnemende spanne, naamlik Boxers Wit (Brakpan), Boxers Groen (Brakpan), Heidelberg, Vereeniging, Springs, Nigel, SA All Stars, WACP, Bomb Squad, Mavericks, Gauteng All Blacks en Boksburg, was daar uiteindelik ná die poelwedstryde agt spanne wat bo uitgekom het op die logpunte.
Die spanne was: Boxers Groen, Vereeniging, WACP, Nigel, SA All Stars, Mavericks, Springs en Boksburg. Brakpan se Groen Boxers-span, wat nie een wedstryd in die uitspeelrondes verloor het nie, het as algehele wenners met die trofee weggestap.

Frikkie Bosman, voorsitter van die klub, het gesê die ondersteuning vir die dag was buitengewoon en dat die toernooi, ten spyte van die weer wat nie saamgespeel het nie, ‘n groot sukses was.
“Die spelers van die twaalf spanne wat ingeskryf het, het met ‘n positiewe gesindheid opgedaag en uithaler-sewesrugby is gespeel in die tyd wat vir ons gegun is,” het Bosman gesê.
“Ondersteuners en belangstellendes het in groot getalle opgedaag om ‘n dag van gesonde rugby te geniet.
“Geen moeite is ontsien om die toernooi seepglad te laat verloop nie en dit is net jammer dat die weer ‘n rol gespeel het. Ons kan terugkyk op ‘n baie opbouende en positiewe jaar, en sien uit na 2026,” het Bosman mee afgesluit.





