Local newsNews

Vrou hoor oor foon hoe haar man tydens aanval geskiet word

’n Vrou van Geduld moes magteloos oor die foon luister hoe haar man aangerand en geskiet word nadat hy langs die pad met ’n pap band gestrand was. Hy is later in die hospitaal oorlede.

’n 66-jarige vrou van Geduld moes Donderdag oor die foon hoor hoe haar man (69) aangerand en uiteindelik geskiet word, nadat hy langs die pad met ’n pap motorband gestrand was.

Moira Odendaal en ander familielede het dadelik na die plek gehaas, waar Kallie Odendaal geskiet is.

Die voorval het omstreeks 05:00 plaasgevind, net ’n klipgooi van die Langlaagte-polisiestasie. Hoewel ’n swaar gewonde Kallie by ’n hospitaal kon uitkom, is hy ongeveer 11:40 oorlede.

Volgens sy seun, Kallie jr Odendaal (46), was sy pa daardie dag van Upington af op pad huis toe nadat hy vir ’n paar dae daar werksverpligtinge nagekom het.

Kallie Odenaal se vrou, Moira het met hom or die foon gepraat toe sy hoor hoe hy aangeval en geskiet word. Foto: Verskaf

Na wat verneem word, het ’n band van sy motor in Main Reefweg gebars, nie ver van die Langlaagte-polisiestasie nie.

“Hy het uitgeklim en was besig om die band te ruil terwyl hy ook met my ma op die foon was om aan haar te verduidelik waar hy was en wat gebeur het,” het Kallie vertel.

“My ma het skielik vreemde stemme gehoor en ook hoe my pa pleit dat hulle hom asseblief moet uitlos. Dit is toe dat hy geskiet is.”

“My ma het ons almal laat weet en ons het na die plek gehaas waar ons gedink het my pa sou wees.

Kallie jnr Odendaal en sy pa Kallie het ‘n hegte band gehad. Foto: Verskaf

Volgens Kallie kon sy gewonde pa daarin slaag om terug te klim in sy Jetta en na ’n nabygeleë vulstasie te ry.

“Dit is daar waar ons hom aangetref het. Hy is toe na die Helen Joseph Hospitaal geneem, waar hy later oorlede is.”

“My pa was ’n hardwerkende mens wat steeds vir sy gesin gesorg het, en daar was baie mense wat van hom afhanklik was.

“Die persoon of persone wat hom oorval het, het net sy selfoon gevat. Sy beursie met kontant en al sy ander besittings was nog by hom,” het Kallie gesê.

‘n Foto van ‘n jonger Kallie Odendaal wat Donderdag oorlede toe hy langs die pad geskiet is. Foto: Verskaf

Sy kleindogter, Phoebe Hirselmann, het gesê haar oupa was vir haar soos ’n pa, en dat sy dood ’n groot verlies is vir almal wat hom geken het.

Die gesin sukkel om die begrafnisreëlings te finaliseer en het intussen ’n BackaBuddy-veldtog onder die naam van Kallie Odendaal begin.

Enigiemand wat die gesin wil ondersteun kan dit op die wyse doen.

https://www.backabuddy.co.za/campaign/kallie-odendaal

Die voorval word deur die SAPD ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button