David Woolls van Hoërskool Hugenote het uitgedraf vir die Valke-span wat as oorwinnaars uit die stryd getree het tydens die Nasionale Sewes Rugbytoernooi.
Die toernooi het verlede week by Curro Hazeldean Privaat Skool in Silver Lakes, Pretoria, plaasgevind.
Die Valke, wat nie die grootste gunsteling was om te wen nie, het gesorg vir die grootste opskudding tydens die toernooi.
Die span het die 17 punte agterstand van verlede jaar se wedstryd teen die Vrystaat (33-40) ingehaal toe hulle die Suid-Westelike Distrikte in die eindstryd met 21-17 geklop het.
Sodoende tree die Valke uit as vanjaar se provinsiale seweskampioene.
Volgens afrigter Anton Geyser het niemand sy span ‘n kans gegee nie, maar dit het hulle net meer gemotiveer.
Nadat die Valke-span in sy eerste wedstryd van die toernooi met 5-17 vasgeval het teen die Bulle, het hulle met 12 elk gelykop teen die Luiperds gespeel.
Om ‘n kans op bekerglorie te hê moes hulle minstens 46 punte teen die Griekwas aanteken en het hulle dié span met 52-0 geklop.
Die oorwinning het die Valke se plek as naasbeste span in die Groep B na die beker-kwarteindstryd bespreek.
Hierna was daar geen keer aan die Valke-span nie, en het die span die Vrystaat met 21-5 en die Bulle met 33-5 getroef om die einstryd te haal.
“Die realiteit van my span se oorwinning het nog nie mooi ingesink nie,” sê Anton.



