Charmain deel haar Duitsland karate ervaring
Charmian Esterhuizen het onlangs aan die 22ste Wêreld Karate Kampioenskappe Bremen 2014 in Duitsland deelgeneem.
Sy het nou wel tydens die eerste rondte van die kampioenskappe uitgeval, maar dit was ‘n groot eer vir haar om Suid-Afrika te verteenwoordig.
In haar divisie was daar 60 atlete, alhoewel daar altesaam 996 karate-atlete deelgeneem het wat 116 lande verteenwoordig.
Die Protea span het bestaan uit 15 atlete.
Charmian is ‘n gekwalifiseerde vierde dan Japan Karate Shotokaih en sê haar ervaring tydens die kampioenskappe was nederigheid.
Hieruit het Charmian geleer dat nie net sy nie, maar ook Suid-Afrika atlete baie meer blootstelling aan international kompetisie behoort te kry.
“Soms veroorsaak finansiële struikelblokke dat deelname nie kan plaasvind nie, aangesien alle kostes uit die atleet se eie sak moet kom.”
Vir haar was daar geen ledige oomblik nie, want sy het die grootste gedeelte van haar tyd saam met die die res van haar spanmaats die kampioenskappe dopgehou en die ander spanlede ondersteun.
Sy het wel ‘n bietjie van die stad Bremen te siene gekry deur rond te loop en ouer gedeeltes van die stad besoek wat baie besonders was.
“Maar karate was maar steeds vir my die grootste trekpleister.”
Die span het nie regtig geleentheid gehad om as span te oefen nie, maar hulle het wel dieselfde dag van hul aankoms in Bremen in die hotel se konferensiekamer strekoefeninge gedoen.
Die volgende dag is die spanlede ingeweeg en het van hulle begin deelneem.
Charmian het die tweede dag na hul aankoms tydens die eerste rondte van die kampioenskappe uitgeval teen ‘n Romeense vrou.
Sy vertel hoe hulle opgewarm het in die opwarmingsarea wat spesifiek vir hulle in die arena uitgesit is.
“Ek het wel met ander lande se atlete gesels en het net so lekker gekuier en gedans by die dinee wat na afloop van die kompetisie gehou is.”
Charmian en haar spanlede het per geleentheid in ‘n Ierse kroeg gekuier en die rugbywedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland gekyk, wat vir almal ‘n fantastiese belewenis was.
Tydens die kuier het die Suid-Afrikaners die Duitse kultuur beleef.
Vir haar was dit ‘n wonderlike ervaring en ‘n baie mooi land.
Sy sê alhoewel daar nie veel tyd was om die land te verken nie sal sy dit graag weer wil besoek.



