Worsbroodtjies help om ‘n bestaan te maak
Entrepeneur sorg dat motoriste nie honger lei nie.
Daniél Talaard (57) van Casseldale is ’n entrepreneur wat daagliks sorg vir ’n glimlag op vele motoriste se gesigte, danksy die heerlike boereworsrolle wat hy langs die pad verkoop.
Daniél bedryf sy worsrolstalletjie al vir amper vyf jaar en hy het vertel dat hy dit by die vorige eienaar oorgeneem het. Dié persoon het vir sewe jaar worsrolle verkoop.
“Deur al hierdie jare is die ‘resep’ nog steeds dieselfde, ek koop my wors by dieselfde verskaffer, my kole is nog steeds dieselfde, en ek gebruik nog altyd dieselfde souse,” vertel Daniél.
Also read: Musiek en soetigheid by Presidentia
“My besigheid het altyd baie goed gedoen, maar met die koms van Covid-19 kon ek gou agterkom dat mense swaarkry en dat daar minder geld is. Ek sukkel nou om 30 worsrolle op ’n dag te verkoop,” vertel Daniél.
“Tye wat ek gewoonlik baie besig was is nou maar stil.
“Met my ouderdom sukkel ’n mens om werk te kry, ek moes noodgewonge iets doen. Dit is toe dat ek besluit het om die stalletjie oor te neem.

“My besigheid is onvoorspelbaar en ek kan nie bepaal hoeveel ek op ’n dag gaan verdien. Dit is ook moeilik om vas te stel watter dae besig gaan wees aangesien daar nie ’n vaste patroon is nie. Maar op ’n goeie dat kan ek tot 50 worsrolle verkoop.
Also read: Genotvolle Kersmusiekfees
“Ek verkoop ook kaasworsrolle en yskoue koeldranke. Op ’n reënerige dag sal ek eerder nie gaan opslaan nie.
“Ek het al geleer dat mense nie stop vir kos as dit reën nie,” verduidelik Daniél.
Daniél is gelukkig met sy dag tot dag werk, hy het ook sy gereelde kliënte wat nie huiwer om ’n stoel nader te trek en ’n geselsie aan te knoop nie.
Daniél slaan sy stalletjie daagliks op langs South Mainreefweg voor die verkeersirkel by die Springs Vliegveld.



