Hugenote swemmers durf Midmar vreesloos aan
Hierdie atlete het die agt myl swem roete oor twee dae aangepak.
Drie leerders van Hoërskool Hugenote het aan die agt myl afdeling van die jaarlikse aQuellé Midmar Myl oopwater swem geleentheid verlede naweek deelgeneem.
Jessica Scorge het dit saam met die tweeling Mats en Bjorn du Preez aangepak.
Al drie hierdie swemmers het vir die nie-winsgewende organisasie, Childhood Cancer Foundation (CHOC) geswem en sodoende geld vir die organisasie ingesamel.
Die 15-jarige Jessica was vanjaar nie net die enige meisie van Hugenote wat aan die oopwater swem deelgeneem het nie, maar ook die eerste meisie van die skool wat die agt myl aangepak het.
Hoewel dit die derde keer was wat sy aan die Midmar Myl deelgeneem het, was dit egter die eerste keer wat sy die agt myl aangedurf het.
Hierdie afdeling strek oor twee dae waar die swemmers vier myl per dag swem en sy het die volle afstand in 6:32 voltooi.
“Dit is iets wat ek al lank wou doen om dit aan myself te bewys. Terwyl ‘n mens swem dink jy net dat jy so gou as moontlik klaar moet maak en probeer positief bly, maar die oomblik toe ek klaarmaak was ek regtig trots op myself – nie net omdat ek die volle afstand voltooi het nie, maar ook omdat ek ‘n verskil kon maak in kinders met kanker se lewens,” sê Jessica trots.
Swem was egter nie altyd in die 16-jarige Mats en Bjorn se bloed nie en hulle het eers 18 maande gelede dié sport begin beoefen.
Hulle oom, wat al jare lank aan die Midmar Myl deelneem, was glo die motivering agter die besluit om die agt myl aan te pak.
Bjorn het die agt myl in 5 ure voltooi.
“Na die swem was my lyf nogal seer, maar ek was verlig om klaar te wees,” vertel hy en voeg by dat hy die stilte van die natuur tydens die swem veral geniet het.
“Om vir CHOC te swem het my beslis gemotiveer omdat ek weet hoe belangrik ons fondsinsameling vir hulle is. Dit is fantasties om deel van so ‘n positiewe bydrae te wees,” het Bjorn gesê.
Sy boetie, Mats was kort op sy hakke met ‘n tyd van 5:30.
“Gedurende die swem het ek gefokus op my asemhaling en bewegings, en in my gedagtes het ek net weereens besef hoe wonderlik dit is om so deel van die natuur te wees.”
“Toe ek uitklim was ek dood moeg, maar tog trots en dankbaar dat alles goed afgeloop het,” vertel Mats.
Hoewel die tweeling kompeterend in ander sportsoorte is, bieg hulle dat die swem iets is wat hulle geniet om saam te doen.
Asof die twee-dag-lange swem van agt myl nie genoeg was nie, het al drie dié swemmers Saterdag ook nog aan die amptelike een myl deelgeneem en erken dat 2026 se agt myl hulle weer sal sien.




