EntertainmentLifestyle

Broer en suster ‘n gedugte span

Ana en Phillru van Achterberg is ‘n broer en suster wat 'n passie deel vir drama.

Hierdie twee oud-Hugenote Hoërskool leerlinge en inwoners van Strubenvale speel tans in die Liewe Heksie-reeks wat oraloor in die land opgevoer word. Ana speel ook in die produksie My Boetie se Sussie se Ou.

Hul pa, Frans Swart, van Lefra Produksies spog dat hulle albei ongelooflik talentvol is. Die twee het van ‘n baie jong ouderdom omtrent elke liewe kunswedstryd gewen waar hulle by hul pa se dramaskool, Frans Swart Dramaskool, drama geneem het.

Phillru was baie klein toe hy die rol van die klein renostertjie in Horings gespeek het – ‘n produksie wat Frans destyds KKNK toe geneem het.

Ana het ook ‘n rol in Horings gehad. Frans vertel een aand op RSG se kunsteprogram was daar ‘n onderhoud met die hele jeuggeselskap gedoen oor hierdie besondere produksie. Tydens die onderhoud vra die omroeper vir Ana watter rol speel sy en oor nasionale radio kom die antwoord: “Tannie, ek speel die renoster se gat”.

Phillru sê daar was baie kompetisie tussen die twee.

Ana is drie jaar ouer as hy. Hulle het, toe hy in graad agt was en Ana in graad 10, saam gekompeteer om ‘n beker. “Sy wen dit een jaar en dan weer ek die volgende,” spog hy, “gesonde interne kompetisie is goed.”

Dit is vir Phillru ‘n voorreg om saam met sy suster op te tree omdat hulle so baie passie deel.

Hulle het saam die perspektief gekry en saam besluit dit is wat hulle gaan doen en hulle moet mekaar ondersteun in die wat hulle doen.

“Omdat ons so na aan mekaar is, is dit vir my ‘n baie ‘humble experience’ om saam met haar ‘n verhoog te deel soos in Bar en Ger.

“In die drama term ‘feed’ ons van mekaar af in teaterspel, soos wat ons tans besig is om te doen in die Liewe Heksie teaterstuk.”

Hulle is beskou deur die teaterspel totaal en al as “over the top”.

Wanneer Ana sien sy energie is bietjie af en hy raak moeg, dan gee sy hom so stamp in die sy en sê “kom nou broer ons moet nou aangaan” of ‘kom ou Kaspertjie”.

Dit gee Phillru skoon ‘n knop in die keel.

Vir albei hierdie twee jongmense is dit eens dat dit baie harde werk is om akteurs te wees, aangesien dit ‘n baie kompeterende bedryf is.

By baie oudisies moet hulle hulself inleef in ‘n ander karakter.

Hulle is so gemaklik met mekaar dat dit vreemd voel om dit saam met iemand anders te doen.

Ana, het na skool drama gaan studeer by die Tshwane Universiteit van Tegnologie en was bly dat Phillru besluit het op ‘n ander studie-rigting.

Nadat sy haar studies voltooi het, was sy baie bly dat Phillru besluit het LLB is nie vir hom nie, dat hy gesê het “I want to get back to show business”. Hy het toe liewer drama gaan studeer.

Met hierdie besluit het Ana geweet hier kom groot dinge.

Nou kan hulle saam in ‘n grootmens-lewe op tersiêre vlak en nie meer op skoolvlak saamwerk.

Sy het drama afgerig by Hoërskool Stoffberg sowel as by Hoërskool Hugenote, waar Phillru haar baie gaan help het.

Dit is juis gedurende hierdie tydperk dat Phillru agtergekom het hoe onseker kinders is en sy droom gebore is om dramaterapie te doen.

Ana voeg by dat dramaterapie baie groot is in Londen, Australië en Kanada.

“Hier in Suid-Afrika kan mens dit nie regtig studeer nie, maar jy kan drama individueel studeer en dan sielkunde, maar dit sal jou vier jaar neem op universiteit vir drama en ses jaar vir sielkunde,” sê Ana.

Verder sê sy as jy die 10 jaar klaar studeer het kan jy eers geregistreer word as dramaterapeut.

Hierdie tipe terapie kan kinders of selfs grootmense help wat ‘n traumatiese ondervinding gehad het, wat hakkel of dalk gemolesteer is, een of ander kwaal het.

Phillru sê drama is basies wanner hulle op die verhoog klim is hulle nie meer Ana en Phillru nie, maar ander karakters.

“Ek het baie navorsing daaroor gedoen en dit plaas die mense totaal en al in ander mense se skoene,” voeg hy by.

In drama kyk die akteur met ‘n ander perspektief na die wêreld.

So deur die terapie-sessies en baie oefeninge wat dié twee self op universiteit gedoen het, doen ‘n mens eintlik opvoedkundige teater met baie tegnieke om jouself sodoende in ‘n karakter te kry,

Dié twee raak so opgewonde dat hulle gelyk begin praat oor Phillru se passie en vertel omtrent gelyk wanneer ‘n skaam dogtertjie op die verhoog sal klim in ‘n karakter, sal sy selfvertroue kry.

“Mense se grootste vrees is om met die publiek te praat,” sê Phillru, “Met dramaterapie kan ons sulke kinders help met dit waarmee hulle sukkel.”

Vir ontspanning speel Ana graag tennis, maar albei geniet “touch rugby” en sê dit is baie lekker.

Ana skilder graag in haar vrye tyd en kuier bietjie saam vriende en gesels rustig oor ‘n glasie rooiwyn.

“Ons deel soms dieselfde vriendekring, alhoewel nie altyd nie, maar ons woon graag “shows” by,” sê sy.

Phillru sê hulle vriendekring is almal kreatiewe mense.

Een van Phillru se beste vriende het kitaar gespeel in een van Ana se produksies, Die Aand van Nostalgie, wat pas aangebied was by Little Life Arts Theatre in Boksburg.

“Ek woon dit definitief by, want ek weet na die tyd sal ons gesels oor nog ‘n produksie,” sê Phillru.

Hy weet as hulle na ‘n produksie bymekaar is, is dit ‘n vier ure se gepraat oor wat hulle nog kan doen.

Om voor mense op te tree is vir die van Achterbergs glad nie ‘n problem nie, want omdat hulle in hierdie mileu groot geword het, is hulle al so gewoond daaraan.

“Ons is totaal en al ekstroverse,” sê Phillru. “Ons is glad nie “drama queens” nie, maar diep denkers,” voeg Ana by.

Baie mense sien vir Phillru as ‘n grapjas, omdat hy altyd tyd het vir ‘n grappie hier en daar, maar hy en Ana verkies altwee hul eie geselskap, alhowel hulle ‘n balans hou.

Al is hulle nie konstant saam nie, spandeer hulle die meeste van hul tyd saam. Alhoewel hulle nogal op mekaar se senuwees werk, baklei hulle net as dit regtig ernstig is, soos een of twee keer ‘n jaar, nes enige broer en suster maar doen.

Maar hulle sal eerder ‘n geskil uitpraat. Hulle verkies om eerder baie eerlik met mekaar te wees en daarom is dit baie maklik vir die een om vir die ander een kwaad te raak, want hulle is baie reguit mense.

“Ons sal gou vir mekaar sê as iets uit plek is,” sê Phillru.

Ana, daarenteen, sê dit is gesond om te stry.

Op ‘n tyd het hulle saam gesing en kitaar gespeel as ‘n stokperdjie en het ook op ‘n tyd ‘n liedjie geskryf.

“Ons is baie gelukkig want ons het van kindsbeen aan kompetisies en redenaars deelgeneem, gediggies en monoloë,” se Phillru.

Saam voel hulle bevoorreg met hul familie en die blootstelling wat hulle in die teater gekry het.

Phillru spog graag met ousus en hoe goed hulle saamwerk en toneel speel.

Was dit maklik vir hulle om te kom waar hulle vandag is of nie?

Frans sê produksies is ‘n moeilike bedryf.

“Ek glo hulle moet hulle eie ding doen en onafhanklik wees,” voeg hy by.

“Ana reël byvoorbeeld ander kunstenaars se vertonings en Phillru skryf liedjies en doen bemarking.”

As Ana en Phillru vir Lefra Produksies wil werk, moet hulle oudisies doen soos enige ander akteur en Frans sê hy is baie strenger op hulle.

Oor die toekoms is hulle dit eens dat hulle dit vat soos dit kom.

“Ons wil nou soveel projekte moontlik aan mekaar sit en fokus op hierdie oomblik daarop, eerder op sukses.”

Om die gehoor se reaksie te sien tydens ‘n toneel is vir dié twee lonend.

“Dit is ‘n ongelooflike gevoel wat jy nie vir iemand kan beskryf nie,” sê hulle.

Agter die skerms het die twee net so baie pret as op die verhoog.

“As daar ‘n oepsie op die verhoog plaasvind, maak ons dit deel van die ‘show’,” vertel hulle laggend.

Hulle is ook beide skrywers, maar Phillru se ander droom is om ‘n akteur in teater te wees en sal nie omgee om in ‘n film te speel nie. Sy grootste droom is egter nogsteeds om dramaterapie te doen.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button