Fliek oor Louis Viljoen se lewe
'n Oud-inwoner van Springs, Mart-Marie Schoeman, het 'n draaiboek geskryf wat baseer is op die lewe van Louis Viljoen.
Die verhaal van Louis, wat verlede jaar oorlede is, het haar diep geraak.
Sy wil deur haar draaiboek hulde bring aan hom wat gesorg het vir ‘n mediese deurbraak.
Die idee het posgevat nadat Mart-Marie Louis se verhaal by Dr Ralf Clauss, ‘n kerngeneeskundige, gehoor het.
Louis het medici aan die gons gehad in 1999, nadat hy wakker geword het uit ‘n drie-jaar lange koma.
Hy was in ‘n ongeluk betrokke in 1996 waar hy erge brein beserings opgedoen het, met geen hoop om ooit sy bewussyn te herwin nie.
Tydens een van sy ma Sienie Viljoen se besoeke, merk sy hy is baie rusteloos en sy besluit om Dr Wally Nel, hul jarelange huisarts in Springs, te skakel.
Hy beveel aan dat sy vir hom ‘n slaappil (Stilnox) gee, om hom te kalmeer.
Min het hulle geweet dat hy 25 minute later sou wakker word van dié pil en sy eerste woorde in drie jaar uiter.
“Hallo mammie”.
Sienie sê sy is baie opgewonde oor die film.
Wally voel Louis het nie die nodige erkenning gekry wat hom toekom nie, en dat hy deur die film sal vereer word.
Hierdie mediese deurbraak het die wêreld aan die gons gehad en Louis het mediese geskiedenis gemaak.
Mart-Marie was nie net aangegryp deur die mediese deurbraak nie, maar ook sy lewensverhaal.
Die film sal grotendeels in Springs verfilm word, maar die hospitaal tonele sal in Johannesburg plaasvind.
Die filmmaatskappy is tans opsoek na geskikte huise om tonele te verfilm in die Springs omgewing en, indien enigiemand hul huis beskikbaar wil stel, kan hulle die inligting e-pos na 25minutefilm@gmail.com.
Die verfilming sal in Oktober geskiet word.



