EntertainmentLifestyle

Gee vir dié man ’n pen en papier!

Zacharia ''Ys'' Buys (69) glo dat hy met ’n skryftalent gebore is.

“Dit kom van my vader se kant af en ek glo dit word geneties oorgedra, aangesien my dogter, Linda Tredoux (33), dieselfde talent het,” vertel hy.

Sonder enige skryfkuns opleiding het Ys die gawe om oor diere en veral mense te skryf.

Hy is in Pretoria gebore, maar het in 1965 na Springs verhuis.

Toe Ys in standerd ses was het hy ’n gedig oor die moord op die Amerikaanse President, John F Kennedy, geskryf en by die skool ingehandig.

Sy Afrikaanse onderwyser, ’n ene mnr Smit, het glo vir hom gesê: “Ys jy het talent”.

Hierdie talent was nog altyd lekker om uit te leef, en hy word soms in die nag wakker met ’n naam of ’n kort gedagte oor ’n dier of gebeurtenis en raak dan weer aan die slaap.

Sodra hy wakker word, spring hy dadelik aan die werk en begin skryf oor dit wat hom in die nag wakker gemaak het.

Ys reken die woorde vloei eenvoudig, die een na die ander, in sy gedagtes in, sodat hy hulle kan neer pen.

Hy verkies egter om gedigte oor mense te skryf en vertel dat, alhoewel hy vroeër jare nie baie tyd gehad het om te skryf nie, hy deesdae ernstiger oor sy skryfkuns is.

Hy het sy vrou, Meisie (née Ferreira), in Springs ontmoet en in 1971 met haar getrou.

Meisie is die een wat altyd sy gedigte getik het, maar hul dogter, Linda, is die een wat dit deesdae op die rekenaar tik.

Alhoewel hy lief is om gedigte te skryf het hy destyds, as gevolg van sy werk, nie baie aandag daaraan geskenk nie.

Hy spog nogtans, ten spyte van die tyd faktor, met omtrent vyf kinderstories en heelwat gedigte.

Dit het egter verander en sedert 1994 het Ys ’n intense ingryping beleef en besluit om sy skryfwerk meer ernstig op te neem.

Vandag is Ys gedurig te sien, veral in die aande, met ’n pen in papier in die hand, besig om te dig.

“Ek het hope en hope gedigte en daar is iemand van Springs wat onlangs omtrent 150 van my gedigte saamgebind het, met die titel Ys Beryming, maar dit is nie gepubliseer nie,” sê hy.

Ys glo die Here het aan hom die regte gesindheid en gawe gegee om te kan dig en skryf.

Vir diegene wat ook dig en nie seker is of dit die moeite werd is nie, wil hy sê: “Hou aan skryf, want hoe meer jy skryf hoe beter word jou skryfwerk”.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button