Koekversiering en liefdadigheid op Spings VLU-agenda
Die klas is deel van die VLU streek se doelwit om meer werkswinkels aan te bied by takke.
Die Carpe Diem-tak van die Vroue Landbou-unie (VLU) in Springs het op 10 Junie tydens hul maandelikse vergadering geleer hoe om botterversiersel op koeke en kolwyntjies te pyp.
Die werkswinkel vorm deel van die streek se doelwit om meer praktiese aktiwiteite tydens takvergaderings aan te bied, eerder as slegs aanbiedings deur kundiges wat nie altyd vir lede relevant is nie.
Marie Bouwer het die klas aangebied en die vroue drie tradisionele pyptegnieke gewys, waarna hulle die ontwerpe op hul eie kolwyntjies kon oefen.
Die tegnieke het onder meer ‘n groot roset, klein rosies en blaartjies, asook ‘n roosterpatroon ingesluit.
Lede het ook gehoor dat Epilepsy SA in Geduld, wat deur die tak as sy liefdadigheidsprojek aangeneem is, dringend beddens en matrasse benodig.

Die tak samel ook toiletware in om nog ‘n groot behoefte by die sentrum aan te spreek. Die VLU-kongres vind op 26 en 27 Augustus by Meulstroom plaas.
Die Goudrif-streek se inligtingsoggend word op 23 Oktober by die NG Kerk Brakpan-Wes aangebied.
Tydens die geleentheid sal vroue meer te wete kom oor die vereistes en beoordelingskriteria vir artikels wat vir beoordeling ingedien word.
Die tak se fondsinsamelingsfunksie vind op 19 September by die NG Kerk Bothastraat in Springs-Noord plaas.
Gaste kan uitsien na vermaak, heerlike kos en gesellige samesyn.
Kaartjies is vir die publiek beskikbaar, en navrae kan aan die voorsitter, Desiré van Wyk, by 073 631 9511 gerig word.


LEES OOK: Paulos Kholu reflects on 14-year journey at Springs SPCA
LEES OOK: Network, connect and have lots of fun at business expo



