InternationalSport

Die gras is groen vir Driaan op UJ

Driaan bieg dat hy nie van kleintyd af gedroom het om ’n rugbyspeler te word nie

As die jong slot nie op die rugbyveld is nie sal jy die 23-jarige Driaan Bester by die viswaters kry of by ’n braai saam sy pelle, besig om te ontspan.

Die kranige rugbyspeler van eMalahleni het in 2015 vir homself naam gemaak op die rugbyveld toe hy vir die eerste keer vir die Leeus o.19 uitgedraf het.

Daarna was sy kop deur en spog hy vandag as rugbykaptein van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se rugbyspan.

“Die feit dat ek as kaptein gekies is, is ’n hoogtepunt vir my en ’n groot voorreg. Dit is wel ’n groot uitdaging wat voorlê, maar wat ek met ’n glimlag gaan aanpak. Ek weet vir seker dat ek ’n verskil in ’n paar ouens se lewe gaan maak deur die proses en ook as mens gaan groei,” het Driaan vertel oor sy prestasie.

Driaan Bester

Driaan bieg dat hy nie van kleintyd af gedroom het om ’n rugbyspeler te word nie, maar wel laat in hoërskool besef het dat hy werklik goed is in die sport.

As jy hom vra wat sy lewens ‘motto’ is, vertel hy dadelik dat hy nie so iets het nie.

“Vir my gaan dit oor hoe graag jy iets wil hê en dat jy as mens moet besluit wat vir jou belangrik is en dan moet jy alles doen wat jy moontlik kan om daar uit te kom. Dit is waarna ek streef,” het hy gesê.

As dit kom by ondersteuning is Driaan se ouers, Sonja en Attie Bester sy steunpilaar, “ek is ’n baie gelukkig ou, ek het ’n hele familie wat agter my staan en my ondersteun.”

Die rugbyspeler, Driaan wat op menige rugbyondersteuners se lippe is, is dieselfde Driaan by die huis as op die veld.

“Ek glo aan konsekwentheid, so die Driaan wie jy ontmoet by die huis, is die Driaan wat jy sal ontmoet op die rugbyveld,’n rustige saggeaarde ou wat regtig hard wil werk vir dit wat wil hê,” het hy trots vertel oor homself.

Die nederige Driaan beoog om na sy studies net so goed te presteer in die besigheidswêreld as op die groen gras van ’n rugbyveld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button