InternationalSport

Deon sit ’n 100km ore aan

Dié gogga het hom gebyt en hy hardloop reeds vir vier jaar en spandeer redelik baie tyd in die gimnasium ook

Deon Botha is ’n alombekende gesig in ons stad, veral met sy tekkies aan, sien jy hom gereeld aan die hardloop die hele stad vol.

Dié ysterman het onlangs die Recce Mission aangedurf wat ’n 100 kilometer is, en meestal uit ‘trail running’ bestaan.

Hy het ook die Comrades Marathon aangedurf vir die tweede opeenvolgende jaar.

“Die Recce Mission het in Dullstroom plaasgevind en dit was ‘amazing’. Jy het 25 ure om dit klaar te maak en ek het dit gedoen in 24.9 ure. Ek het dit in 2018 ook gedoen, maar het myself verkeerd ge‘navigate’ en het ’n gedeelte van die roete uitgesny. Hulle gee vir jou ’n globale posisioneringstelsel waarmee jy jouself moet navigeer. Dis ‘insane’,” het Deon verduidelik.

Hy het bygelas dat wedlope voor ’n groot maraton nie so erg is nie.

“Ek het voor die Recce agt maratonne in agt weke gedoen.”

Hy het toe ook die Comrades Marathon aangepak wat hy as baie moeilik beskryf het.

“Dit was my tweede Comrades. Ek het verlede jaar ook een gedoen, dis hoekom ek die ‘back to back’ medalje gekry het. Dit beteken dat ek my eerste en tweede comrades in twee agtereenvolgende jare gedoen het. Hierdie jaar het ons van Durban na Pietermaritzburg gehardloop, die opdraande. Ek het hierdie jaar 11 ure en 12 minute gehardloop, alhoewel my doel die sub-11 was. Verlede jaar het ek wel die sub-11 gehaal,” het Deon vertel.

Hy het bygevoeg dat hy nie sê hy dit nooit weer sal doen nie.

“Daar is net baie lekkerder dinge as die Comrades,” het hy laggend gesê.

Hy het ook vertel dat jy jou storie moet ken om tussen 21 000 mense by die beginpunt, te moet wegkom.

“Die comrades is nie onmoontlik nie, maar dis baie ‘tough’. Daar is vrek baie opdraandes en hulle is fris.”
Volgende op Deon se agenda is die Karkloof. “Dit is ’n 100 myler (160 kilometer) wat jy in 36 ure moet doen. Dit is ook ’n ‘trail run’ en vind in September plaas.”

Deon het vertel dat sy hardlooppad begin het toe hy besluit het om gewig te verloor.

Dié gogga het hom gebyt en hy hardloop reeds vir vier jaar en spandeer redelik baie tyd in die gimnasium ook.

“Ek oefen elke dag. Ek hardloop soms gim toe wat so agt kilometer is, dan oefen ek en hardloop dan weer terug. Maar ek ‘average’ so ses kilometer ’n dag. Maar op Sondag hardloop ons. Ons het so hardloopgroep, dan doen ons dit goed,” het Deon bygevoeg.

Hy is deel van die Run Walk for Life Witbank klub. Die klub bied juis van 1–6 Julie ’n wedloop aan waar hardlopers die 42 kilometer in vyf dae moet aflê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button