InternationalSport

Rochelle gaan Florida toe

Rochelle is tans die sterkste vrou in die hele Afrika kontinent in die liggewig o.65kg

Rochelle Diedericks se lyf laat menige koppe draai, maar jy besef nie agter daardie vietse lyfie sit ’n bondel krag nie.

Rochelle is tans die sterkste vrou in die hele Afrika kontinent in die liggewig o.65kg.

Internasionaal is sy die elfde sterkste.

Tussen 1 en 3 November gaan sy in Amerika kragte meet teen die sterkstes onder die sterkes.

Rochelle was nie altyd so rietskraal nie.

Soos baie ander vrouens het sy ook maar oorlog gemaak teen die vetjies.

“In 2014 het ek ’n skaal gehaat, ek was toe 82kg. Na die geboorte van my twee woelwaters, het ek gesukkel om die kilogramme af te skud. Ek het met elke swangerskap so 12kg in totaal opgetel, wat nie baie was nie, maar wat moeilik was om elke keer te verloor. Ek het met altwee ’n keiser gekry, wat dit nog moeiliker gemaak het om my lyf terug te kry. Ek was moeg gesukkel om klere te kry wat pas en mooi aan my sit. Ek het omtrent elke klimtoldieet ná die ander gevolg, maar dit wou net nie werk nie,” eggo sy miljoene ander vroue se noodkreet.

Sy het by ’n gewigsverlies- en gesondheidskliniek aangesluit, die eerste stap na ’n leefwyse wat sy sonder moeite haar eie gemaak het.

“In Februarie 2014 het ek by die kliniek begin en met ’n eetplan afgeskop. Ek kan met eerlikheid sê ek was dadelik negatief en het gedink dis té streng en dat ek dit nooit sal kan volhou nie. Ons was gewoond aan baie eet, naweke het leë pizzabokse,‘chips-pakke’ en leë Coke bottels ons asblik versier. My grootste vrees was dat ek honger sou word met die nuwe eetplan, maar inteendeel. Water drink was nie een van my sterk punte in die lewe nie, ek was verslaaf aan Coke.”

Rochelle moes skielik leer hoe om reg te eet en alles was makliker gemaak met die hulp van die personeel by die kliniek wat haar met elke stap ondersteun het.

“Dit was baie hard en moeilik in die begin, maar na ’n paar weke toe ek die resultate begin sien en voel, was ek net meer gemotiveer. Water is nou omtrent al wat ek drink asook rooibos- en groentee of decaf koffie. Ek gaan nêrens sonder my waterbottel nie. Wegneemetes en pizza is nou iets van die verlede en ek drink glad nie meer so vreeslik baie Coke nie. As ons gaan uiteet het sou ons burgers en ‘chips’ bestel, nou bestel ons ’n lekker gesonde ‘wrap’ met slaai en water of koffie,” het sy een van haar geheime gedeel.

Om die vetjies vinniger te laat verdwyn, het sy ook begin ‘bootcamp’.

Na ses maande het Rochelle aan ’n aanlyn liggaamstransformasie kompetisie deelgeneem wat oor 12 weke gestrek het.

“Ek het ’n aanlyn instrukteur gehad wat vir my elke vier weke ’n eet- en oefenprogram gegee het. Ek moes elke vierde week vir haar foto’s stuur. Hierdie kompetisie het vir my daardie ekstra hupstoot gegee en tydens die 12 weke het ek nog 4kg en ’n paar ekstra sentimeters verloor.”

Rochelle het onder die top 30 deelnemers uit die 250 deelnemers landwyd geëindig. Ongelukkig het sy in die tweede ronde uitgeval.

Sy het daarna by ’n plaaslike gimnasium aangesluit. Daar is sy gevra of sy sou belangstel om aan liggaamsboukompetisies deel te neem.

Vier maande later het sy die liggaamsfiksheidkompetisie van die 165cm afdeling gewen en net daar het die kompetisie-gogga gebyt.

In 2017 het Rochelle begin met kragkompetisies. Sy het medalje na medalje ingepalm.

Die harde werk lê nou voor. Rochelle moet voorberei en fondse insamel om Suid-Afrika te verteenwoordig in die sterkmanspele in Florida.

Op 30 Augustus gaan sy probeer om ’n vier-ton trok so ver as wat sy kan te trek. Jy kan haar per meter borg.

Al die aksie vind oorkant Sportmans Warehouse by Highveld Mall plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button